MOEILIKHEID HAAL MASKER AF OP DEBUUTALBUM
Updated: Oct 7
Verskaf / Zeno Peterson

Vir Moeilikheid, ook bekend as M, het sy debuutalbum begin toe hy homself beter verstaan het. Ná jare waarin hy gevoel het hy moet dele van homself wegsteek, gee H.K.G.K. daardie gedagtes en gevoelens ’n plek om hardop gehoor te word. Die album se 13 snitte beweeg tussen alternatiewe pop en rock, met liefde, verslawing, geloof en hoop as temas. M het ’n groot deel self geskryf, vervaardig en opgeneem. Francois van Coke, Vreemd en SHY! (Ruan Graaff) sluit by hom aan, met Graaff wat ook sewe snitte vervaardig het.
“Modder” is een van die album se mees persoonlike liedjies. Die musiekvideo, onder regie van Zeno Petersen, gebruik godsdienstige simboliek om die spanning tussen verslawing en geloof uit te beeld. Dit sluit aan by M se bedoeling met die album om musiek te maak vir die oomblikke wanneer die kuier verby is en jy alleen met jou gevoelens sit.
" H.K.G.K. was eintlik die eerste keer wat ek gevoel het ek hoef nie meer te probeer voorgee dat ek iemand anders is nie. Ek kon net sê: dit is wie ek is. Dit is wat ek voel. Dit is waar ek was. Party dae was nogal scary, actually. " sê M

AIA het met Moeilikheid gesels oor die mens agter die album, die stories wat moeilik was om te deel, en wat gebeur wanneer jy iemand anders met jou klank vertrou.
Jy praat van ’n stem wat jare lank ingehou is. Wat het verander dat jy al die woorde nou hardop kon sê in jou album H.K.G.K, en watter lied op die album was die moeilikste om uiteindelik met ander mense te deel?
M: "Sjoe. Ek het nie gedink ek gaan sommer dadelik hieroor praat nie, maar ek dink dit is die eerlikste antwoord. ’n Paar jaar terug het ek begin besef dat ek op die outistiese spektrum is. Dit was ’n totale system shock, maar toe ek uiteindelik begin verstaan hoekom ek sekere dinge voel, hoekom ek sekere dinge doen en hoekom die wêreld soms vir my anders voel, het dit gevoel asof ek vir die eerste keer my masker kon afhaal. Ek kon die imposter syndrome laat gaan en besef dat my verhouding met musiek eintlik my superpower is. En ek dink dis waar die album begin het.
Al die goed wat ek vir jare ingehou het, al die kere wat ek hardop wou sing maar te skaam was, die goed waaroor ek nie gepraat het nie, het begin uitkom in die musiek. “Modder” was waarskynlik een van die moeilikstes om met mense te deel. Nie net oor die onderwerp van verslawing nie, maar omdat ek baie van myself in die lied openbaar. Dit voel anders wanneer jy goed wat jy jare lank in jouself gedra het, skielik vir almal gee om na te luister. Maar die eerlikheid is rewarding."
In “Modder” se video gebruik jy godsdienstige simboliek om verslawing, verlossing en hoop te ondersoek. Wat wou jy daarmee sê wat die lied alleen nie kon oordra nie?
M: "Wanneer “Modder” begin, hoor jy hoe die bottelproppies val. Een vir een. Maar in die video sien jy wat gebeur wanneer “een vir een” opbou en opbou. Jy gooi elke dag jou leë drankbottels weg. Wat gebeur as jy dit nie doen nie? En dan uiteindelik, hoe affekteer dit jou verhouding met God? Ek kan in die liedjie sing van te vuil voel om kerk toe te gaan, maar in ’n video kon ons wys hoe jy voel jy disrespekteer God. Drank op heilige grond. In die liedjie kan jy die verslawing en verdwaal hoor. Met die video wou ek dit wys. Sonder om te preek.
Maar ek moet erkenning gee aan Zeno Petersen. Hy was die regisseur, en hy het dadelik verstaan wat ek probeer sê het en dit in ’n kunswerk verander."
Jy het ’n groot deel van die album self geskep, terwyl Ruan Graaff sewe snitte vervaardig het en kunstenaars soos Francois van Coke en Vreemd ook deel is. Watter oomblik (saam met een of almal) het ’n lied in ’n rigting gestuur wat jy nie op jou eie sou gekies het nie?
M: "Elkeen het vir ’n feit iets gebring waaraan ek nie self sou dink nie, maar as ek een moet kies, sal ek weer met “Modder” moet gaan. Ek het al heelwat aan die song gewerk voor ek by Ruan aangekom het, maar toe Ruan sy deel begin doen, het die song in ’n rigting gegaan wat ek self nie noodwendig sou gekies het nie, en dit was 100% wat dit moes wees.
Omdat ek self baie van die album geskryf en vervaardig het, is ek nogal gewoond daaraan om baie sterk idees te hê oor hoe ’n liedjie moet klink. Dit kan soms ’n goeie ding wees, maar dit kan jou ook blind maak vir ander moontlikhede. Met die songs wat Ruan gedoen het, moes ek soms bereid wees om ’n tree terug te staan en te vertrou op iemand anders se oor. Dit was vir my een van die belangrikste lesse van die album: dat om iets persoonlik te maak nie beteken jy moet alles alleen doen nie."
Jy beskryf die album as ’n verklaring dat egte musiek en eerlike stories weer moet saak maak. Wat mis jy in die musiek wat jy tans hoor dalk, en hoe het jy jouself op hierdie album uitgedaag om daardie eerlikheid te wys?
M: "Ek mis egtheid en eerlikheid. Ek mis die gevoel dat iemand regtig iets op die spel het wanneer hulle ’n lied skryf. Elke tweede liedjie gaan oor verlief word op ’n vreemdeling, gesing of geskryf deur iemand in ’n happy verhouding. Baie van dit is fake. Mens kan dit hoor. Ek was ’n DJ toe ek in Potch geswot het. Ek het my gunsteling dansliedjies gehad wat ek sou speel terwyl ek werk. Ek het nog steeds. Maar dan is dit 4 uur die oggend. Die clubs maak toe en my vriende gaan slaap. En ek’s alleen in my huis. En dan luister ek musiek wat my heal van die breakup waardeur ek gaan.
Daar is natuurlik ongelooflik baie goeie musiek wat vandag gemaak word, maar ook baie slop. Daar is oorgenoeg songs vir die party, oor trots Afrikaans wees, oor boer. Ek wil musiek maak vir die persoon wat na die kuier by ’n leë huis kom en dalk op daardie oomblik nie van hulself hou nie. Of die persoon wat verdrink in hulle gevoelens en nie self verstaan hoe om dit te sê nie.
Maar dit was ook vir my een van die grootste uitdagings met die album. Ek moes bereid wees om dinge te sê wat ek op ’n tyd eerder wou wegsteek. Om oor liefde te skryf is makliker as om te sê hoekom jy soms sukkel om te glo jy verdien dit. Om oor geloof te skryf is makliker as om te erken dat jy self soms verdwaal daarin. Ek wou nie ’n perfekte weergawe van myself op hierdie album wys nie. Ek wou die ware een wys. 100% rou en eerlik. Lelik, even. Die enigste manier om eerlikheid te wys, is om eerlik te wees. Vir my is dit waaroor egte kuns gaan. Daar’s min van dit."
--
Moeilikheid se debuutalbum “H.K.G.K." is nou beskikbaar op alle digitale platforms, asook op ons Spotify & Apple Music Speellyste - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify
Director, Zeno Petersen / Production Assistant, Melanie Koegelenberg / Written & performed by Moeilikheid / Produced by Ruan Graaf & Edré Bosch






Comments