top of page

BUURVROU SE LIEDJIES KRY VOETE TUSSEN STRANDVURE EN VERHOË

Sep 25
6 min read

Verskaf / Fotograaf: Adam Heyns / Filmmaker: Philip F. Theron


Buurvrou Band

Die nuwe groep Buurvrou het nog geen amptelike musiek vrygestel nie, maar hul organiese ontstaan, speelse energie en meerstemmige klank het reeds mense se aandag begin trek. Die akteur en musikant Beer Adriaanse vertel namens die groep van riffs wat soos dwelms in De Waalpark uitgeruil is, ’n soutpotjie as instrument en liedjies wat eers hul voete op die verhoog moet vind.


“ As jou bure kan sing, begin ’n band. ”


Dít is die eenvoudige filosofie agter Buurvrou, ’n nuwe Afrikaanse groep wat ontstaan het uit vriendskap, bure wat saam kuier, kitare wat altyd binne bereik was en twee sangers wat reeds van kindsbeen af saam sing.


Buurvrou bestaan uit Carla Lima Smith, Nienke Geldenhuys, Luka Geldenhuys en Beer Adriaanse. Hoewel die groep nog geen musiek amptelik uitgereik het nie, het hulle reeds met oorspronklike liedjies, huiskonserte en aanlyn video’s ’n eie identiteit begin vestig.


Hul klank is gestroop en ongekunsteld: twee houtkitare, tromme, stemme en natuurlik ’n soutpotjie. Die liedjies word geskryf om ewe gemaklik om ’n strandvuur én op ’n verhoog te kan leef.


Buurvrou Band


Beer Adriaanse, wat homself tong-in-die-kies as die "werkloosste" en daarom net tydelike woordvoerder van die groep beskryf, het AIA se vinnige vrae namens Buurvrou beantwoord.


Julle sê self: “As jou bure kan sing, begin ’n band.” Wat is die ware storie agter die ontstaan van Buurvrou, en wanneer het julle besef dat die informele saamsing dalk iets groter kan word?


"Dit was ’n verbasend organiese samekoms, aangesien Carla en Nienke al van kindsbeen af saam sing. Ek het Luka die eerste keer jare gelede ontmoet toe hy kitaar gespeel het by een van Nienke se tweedehandse kleremarkies in Stellenbosch. Sy meesleurende riffs het veroorsaak dat my hande vanself op my bobene begin tromme speel het, wat altyd ’n goeie teken is.


Aan die begin van Carla en my verhouding het ek tydens ’n bergstappie gehoor hoe sy “Edelweiss” vir haarself loop en sing, en ek probeer haar sedertdien oortuig dat ons ’n band moet begin. Toe Nienke en Jané egter langs ons intrek, en ons meer toe begin kuier en Luka skielik ook deel van die vriendekring word, was daar altyd kitare rond en skielik baie geleenthede om saam te speel.


Aanvanklik het ek en Luka mekaar alleen in De Waalpark gekry en soos dwelmsmouse riffs uitgedeel. Uiteindelik het ons besef ons het toegang tot twee fantastiese sangers. Vriende het ons in Nien-hulle se woonstel hoor rondspeel en toe ons weer sien, word ons genooi om by Simondium se kerkbasaar op te tree.


Ons het met vyf covers en een oorspronklike nommer opgedaag. Dit was in November verlede jaar. Deesdae speel ons net oorspronklike liedjies. Dit help dat ons omring word deur ’n tipe rent-a-crowd van vriende wat ons aanmoedig om aan te hou musiek maak en gigs te reël."


So vertel bietjie,wie vorm almal deel van Buurvrou, en wat bring elkeen van julle op ’n musikale en kreatiewe vlak na die groep?


"Buurvrou bestaan uit: Carla Lima Smith, wat sing, dans, beduie en dikwels tussen liedjies met die mense praat. Sy bring Madeireense eilandvibrasies na die verrigtinge, asook onvoorspelbare teatrale impulse. Nienke Geldenhuys sing, skoffel en skud ’n soutpotjie. Sy bring kalmte, kaalvoete en krulle, asook ’n voorliefde vir 3/4-tyd. Luka Geldenhuys speel kitaar en sing en is verseker ’n gereïnkarneerde towenaar. Ons kan die belaglikste idees vir hom neurie en as ons weer hoor, het hy dit vir ons in note vasgevang. Hy besit ook ons enigste leerbaadjie.


Ek is Beer Adriaanse. Ek speel my ma se 1974-nylonkitaar en ’n halwe tromstel wat Zinkplaat vir my twintigste verjaardag gekoop het. Ek bring bubbles via my SodaStream, Drop-D – die D staan vir Durbanville, waar ons al vier grootgeword het - en is dikwels in beheer van die snoephappies.


Julle het reeds ’n paar video’s gedeel waarin julle oorspronklike musiek saam uitvoer. Hoe ontstaan ’n tipiese Buurvrou-liedjie, en hoe werk die skryfwerk, melodieë en vokale verwerkings tussen julle?


"Alle eer aan ons vriend Philip F. Theron, die filmmaker wat tot dusver al ons video’s gemaak het. Hy verstaan ons op ’n vlak waarop ons onsself soms nie eens verstaan nie.


Ons almal skryf saam aan die musiek en lirieke, maar hoe dit gewoonlik werk, is dat iemand met ’n impuls of ’n idee kom en die res dit dan gryp en daarmee hardloop. Ons gee mekaar nogal opdraande met die lirieke. Deels omdat ons geweldig lief is vir die taal, maar veral ook omdat daar ’n totale vervlakking in Afrikaanse lirieke plaasgevind het, selfs nog voordat AI dit finaal by ’n afgrond kom afstuur het.


Hoewel daar deesdae weer fantastiese alternatiewe kunstenaars is, gaan soveel Afrikaanse lirieke net oor braai en bakkies, “wys my jou plaas” en/of jou lemoene. (Of natuurlik ’n viering van hoe hard ons moet suip.) Ons wil nie deelneem aan daardie "worsmasjien" nie. Verbeel jou Joni Mitchell of Laurika Rauch het die heeltyd net gesing oor hul karre, hul tuine, hoe lekker hulle lasagne maak en hoeveel G&T’s hulle vanaand gaan drink.


Nie om te sê ons lirieke vaar noodwendig beter of is dieper nie. Ons vind nog ons voete, maar ons druk onsself om iets nuuts na die tafel toe te bring, al is dit dan nou net vir onsself. Dalk is ons net jaloers omdat ons nie ’n plaas, ’n bakkie of lemoene het nie. Ons gaan wel vanaand braai.


Wat die harmonieë betref, het Nienke, Carla en Luka lank in kore gesing. Hulle vind dus deurlopend nuwe maniere om hul stemme te koeksister. Ons probeer eintlik maar net goed totdat dit reg voel. Soms moet ’n mens die liedjie toelaat om jou te lei."


Daar is iets vars, eerlik en terselfdertyd bekend aan Buurvrou se klank. Hoe sou julle dit self beskryf, en wat dink julle bied dit wat tans dalk in Afrikaanse musiek kort?


"Ons het nou al ’n paar keer gehoor dat ons musiek bekend klink. Aanvanklik is dit nogal ’n onrusbarende ding om te hoor, want beteken dit dan ons klink bloot soos reeds bestaande musiek? Maar toe verduidelik iemand vir ons dat dit meer ’n gevoel as ’n klank is. Moontlik is dit die gestrooptheid van ons huidige aanslag.


Ons probeer tans ons liedjies só skryf dat dit eers die beste om ’n strandvuur en daarna op ’n verhoog sal werk. Dalk is dit bloot die afwesigheid van enige tegnologie of elektrisiteit. Dis net twee houtkitare, houttromme en stemme. En natuurlik die soutpotjie.


Ek wil nie te veel daaroor dink nie, want dis hoe ’n mens dit kan verloor. Indien ons dit het. Hoe ek voel wanneer ek na Nienke en Carla luister, is soos ’n ongebore baba wat hoor hoe sy ma en tannie of ouma vir hom in die baarmoeder sing. Dit sus my. Die res het dalk ander redes."


Wat kan julle reeds oor Buurvrou se eerste amptelike vrystelling verklap? Waarom het julle juis dié lied gekies, waaroor handel dit en wanneer kan luisteraars dit verwag?


"Ons wil nog eers ons huidige liedjies vir ’n tyd lank live uitvoel voordat ons hulle in ’n ateljee vaspen. Hulle groei nog met elke gig. Ons praat wel gereeld oor hoe ons dit sal wil opneem. Loki Rothman was by ons tweede huiskonsert en hy het gesê ons moet dit net as voice notes record en op WhatsApp vrystel. Ons oorweeg dit.


Carla is oortuig daarvan dat ons CD’s moet druk sodat net mense met ou karre en hi-fi’s na ons kan luister.


Is Buurvrou aanvanklik as ’n lekker kreatiewe projek gebore, of bou julle doelbewus aan ’n langtermyn-musiekgroep? Wat hoop julle lê volgende voor wat musiekvrystellings en optredes betref?


"Kyk, dit is nou maar so dat ons tans deur die doodstuipe van hiperkapitalisme leef en dat dit met allerhande uitdagings gepaardgaan, veral in die kunste. Ons almal doen baie dinge. Wat ek wel weet, is dat ons al vier lewenslank aan musiek toegewyd sal wees. Die band is tans die heerlikste en natuurlikste manier om daardie toewyding te wys.


Vir nou beplan ons nog ’n klomp huiskonserte, asook ’n optrede by die Woordfees wat Bibi Slippers vir ons gereël het. Sy het ons in ’n kroeg sien speel en het sedertdien ons nie-amptelike beskermheer geword.


Dalk ’n ABBA-coversalbum. Enigiets is moontlik."


Hou Buurvrou dop deur hul YouTube-kanaal te volg, asook hulle persoonlike Instagram-profiele, waar hulle gereeld die groep se musiek en nuus deel. AIA sien beslis uit na wat volgende vir dié besonderse groep voorlê.






Comments


IMG_6823.jpeg

@alternatiefafrikaans

  • Instagram
  • TikTok
  • Facebook
  • Threads
rukrym_wenner_alternatiefafrikaans_nuus - 1.png

NUUSBRIEF

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page