DIE STORIE AGTER FRANCOIS VAN COKE EN HUNTER KENNEDY SE “AKSIE BRAAI”
Updated: Sep 25
Verskaf / Foto's & Video: Sweetmeats Creative

Die titel klink dalk na ’n lekker jolige Braaidag-liedjie, maar “Aksie braai” is eintlik iets heel anders. Francois van Coke en Hunter Kennedy beskryf hul nuwe enkelsnit as moontlik die hartseerste braailiedjie ooit.
Wanneer Francois van Coke en Hunter Kennedy saam liedjies skryf, weet ’n mens daar gaan waarskynlik iets uitkom wat bly sit. Die twee skryf al vir meer as 23 jaar saam en het deur die jare gehelp om die klankbaan vir duisende mense se beste herinneringe te skep. Buiten hul werk saam in Fokofpolisiekar het hulle ook Francois se solo-treffers “Daarsy Boys” en “Hartseer Freaks” saam geskryf.
Nou is hulle terug met “Aksie Braai”, wat op Erfenisdag, vrygestel is. Maar moet jou egter nie deur die titel laat flous nie. Dit is nie jou gewone braailiedjie oor vleis, vriende en ’n koue een langs die vuur nie.
Francois beskryf die lied as “uitbranding toegedraai in ’n braai song”.
Volgens Hunter is dit eerder ’n lied vir daardie deel van die aand wanneer die geraas begin stil word en die gesprekke dieper raak.
“ Dis vir later in die aand wanneer jy hout brand. Wanneer dinge diep raak. Wanneer jy bietjie moed nodig het. Vir die wending. Die asem skep voor die laaste sprint tot die eindlyn.” sê Hunter.
Die titel het ook ’n storie van sy eie. Sowat 20 jaar gelede het Francois en Hunter ’n onderhoud met die legendariese Springbok Os du Randt raakgelees. Toe hy gevra is wat sy gunstelingfliek is, het hy “action” geantwoord. Op die vraag oor sy gunstelingkos was sy antwoord eenvoudig: “braai”.
Die jarelange binnegrap het uiteindelik ’n liedjietitel geword. Terwyl die lirieke aan die hartseer kant lê, gaan die musiekvideo in ’n heel ander rigting. Francois en Hunter speel twee underdogs wat aan ’n komiese Braai Olimpiese Spele deelneem. Daar moet hulle teen professionele, selfversekerde braaikompetisie-deelnemers meeding in items soos die wors-aflos en potjie-kragdra.

AIA het by Francois en Hunter gaan aanklop om meer oor die storie agter “Aksie Braai” uit te vind:
Julle skryf al meer as 20 jaar saam. Wat bring elkeen van julle vandag na die skryfproses wat die ander een dalk nie noodwendig bring nie, en hoe het dit “Aksie Braai” gevorm?
Francois: "Ek dink as dit kom by liedjies skryf, saam en in Fokofpolisiekar, sal Hunter gewoonlik die chef wees en ek die sous-chef. Ek is probably tweede in command. Op hierdie een het ek ’n bietjie meer bygedra tot die lirieke en die song was basies klaar geskryf toe Hunter bygekom het. Met hierdie song het Hunter eintlik meer gehelp met die musiek en melodie as met die lirieke. Dit was sy groot invloed op hierdie een.
Oor die afgelope 20 jaar het ons songs op baie verskillende maniere geskryf. Vir my is dit altyd ’n plesier om saam met Hunter te skryf. Hy het rêgtig ’n fantastiese manier met woorde en ek voel altyd bevoorreg om sy woorde te sing.”
Francois beskryf die lied as “uitbranding toegedraai in ’n braaisong”. Watter deel van die lied voel vir jou persoonlik die naaste aan die waarheid, en hoekom?
Francois: “Elke woord wat ek in die song geskryf het, is 100% die waarheid en kom uit ’n eerlike plek. Ek dink die verse wat Hunter geskryf het, maak net soveel sin vir my, want ek het hierdie jaar deur ’n baie rowwe tyd gegaan. Ek het gevoel asof ek besig was om uit te brand en het gesukkel om weer grond te vat. Toe ek Hunter se verse hoor, in ’n tyd waarin ek heeltemal overstretched gevoel het, het hierdie song net vir my nog meer sin begin maak.”
Hunter: “Ek dink dit gaan oor die gretigheid. Die ‘Aksie Braai’-energie is soos 'Let’s go.’ Ek dink ons albei is probably geneig om uit te brand, want ons is net so keen om altyd dinge te doen. Ons neem nie altyd dinge in ag nie, en die afskakeling en downtime word partykeer vergeet."
Die musiekvideo gebruik ’n klein bietjie humor om ’n dieper lied te vertel. Hoekom dink jy was daardie bietjie komedie die regte manier om dié storie visueel uit te beeld?
Francois: “Ek het gedink ’n Braai Olympics klink vir my moerse funny. Toe ek die eerste keer met die idee vir die song, ‘Aksie braai’, opgekom het, het ek gedink ek wil die video maak waarin daar ’n Braai Olympics is. Dit het net vir my na ’n cool ding geklink om te doen. Hopelik is dit funny en hopelik vind ander mense dit snaaks, want ek vind dit snaaks.”
Hunter: “Wel, ek dink dit het, sort of, in retrospect, soos die regte besluit gevoel. Ek dink Fran was lus om ’n funny video te maak en ons het hierdie song gehad, so dit het bymekaar gesmash. Ek hou maar net daarvan dat dit ’n ander kleur bring en dat dit nie so on the nose is nie - sad song, sad video.
’n Braai word gewoonlik met joligheid geassosieer, maar hierdie lied speel af in daardie stiller oomblik wanneer die aand diep raak. Hoekom dink jy maak ’n vuur dit soms makliker vir mense om eerlik te praat?
Francois: "Ek dink wanneer ’n mens rondom ’n vuur sit, of met die vuur in die agtergrond sit en gesels, is dit nie nodig om na jou foon te kyk nie. Daar is miskien minder inhibisies laat die middag of laat die aand, en partykeer vind ’n mens maniere om goed te sê wat jy op ander tye miskien nie sou sê nie.”
Hunter: "Ek dink eintlik daar is iets aan die natuurlike ritme van die vuur. Wanneer dinge nie so vinnig beweeg nie, dink ek dit forseer ’n mens om ’n bietjie meer introspektief en maybe even meer oop te wees. My gunstelingtipe vuurmaak is daardie deel later in die aand, maar ek dink dis die fokus op die natuur wat die oppervlakkige stuff laat verdwyn, en dan praat mense eerliker.”
--
Die video regisseer vir die musiekvideo is Adriaan Lab, met Carlo Smit as vervaardiger en Jacques van Rensburg as direkteur van fotografie. Sweetmeats Creative het die produksie behartig.
Francois en Hunter se vrystelling “Aksie Braai is nou beskikbaar op alle digitale platforms, asook op ons Spotify & Apple Music Speellyste - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify






Comments