ONDERHOUD: KONSTANT WIESNER MAAK GEREED VIR DEBUUTENKELSNIT

Nadat hy vanjaar tot die finale ronde van die Ruk en Rym-kompetisie deurgedring het, maak die Melkbosstrand-liedjieskrywer en musikant Konstant Wiesner nou gereed om sy eerste enkelsnit die wêreld in te stuur. Sy klank is gebou op eerlike stories, akoestiese elemente en die op- en afdraandes van die lewe.
Wiesner speel al van jongs af kitaar en beskryf musiek as deel van sy menswees. Hoewel hy lank reeds sy eie musiek wou opneem, het die gevoel dat sy werk nog nie “goed genoeg” is nie hom teruggehou.
“Toe ek besef dat ’n mens nooit regtig gereed is nie, het ek agtergekom dat ek dit net moet doen,” vertel hy.
Wiesner se musiek put uit ’n wye verskeidenheid invloede, van Spoegwolf, Francois van Coke en Zaan Sonnekus tot John Mayer en Sam Fender. Tog lê die hart daarvan in iets eenvoudiger: om eerlik, rou en persoonlik te skryf.

Terwyl hy aan sy eerste enkelsnit werk, het AIA met Konstant gesels oor die liedjie, die klank wat hy wil ontwikkel en waar hy homself binne die alternatiewe Afrikaanse musiektoneel sien.
Jy werk tans aan jou eerste enkelsnit. Hoekom het jy juis dié lied gekies as jou eerste kennismaking met luisteraars?
"Eerlikwaar het ek gevoel hierdie liedjie het die meeste potensiaal gehad om deur ’n volle produksie te gaan. Baie van my ander liedjies is sag, akoesties en gevoelgedrewe.
Ek wou hê my eerste liedjie moet steeds van daardie rou eerlikheid bevat, maar ook ’n voller uiteensetting wees van wat ek as kunstenaar kan doen."
Wat kan jy ons vertel oor die klank van die enkelsnit en die rigting waarin jy jou musiek wil neem?
"Stel jou voor Zaan Sonnekus speel saam met ’n folk-band, met John Mayer op kitaar. Dis die beste manier waarop ek dit kan beskryf!
Daar is ’n bietjie van alles in die liedjie. Dit het ’n baie soulful, alternatiewe folk-klank. Ek wil veral op live optredes fokus en graag saam met ander kunstenaars werk om die alternatiewe musiektoneel verder uit te bou."
Wat gaan Konstant Wiesner anders maak as ander nuwe kunstenaars wat hul plek in die alternatiewe toneel probeer vind?
"Vir my kom die storievertelling eerste en dan die melodie. Ek maak staat op eerlike woorde en beeldspraak wat mense kan voel en waarmee hulle kan identifiseer.
Ek voel nie vasgebind deur die “alternatiewe” titel of deur hoe ander mense dink dit moet klink nie. Ek gee voorkeur aan atmosfeer, melodie en narratief. Ek probeer nie die wiel van Afrikaanse musiek herontdek nie. Ek probeer musiek maak sonder ’n masker, sonder ’n filter: iets met rou alternatiewe krag op die oppervlak en diep, opsetlike betekenis daaragter."
Konstant Wiesner / Foto's: Verskaf






Comments