GLASKAS: VIER 20 JAAR ÉN NOG LANK NIE KLAAR
Verskaf / Foto's: Luke Minnaar

Die aand van 9 Oktober by die Woordfees is een wat Deon Meiring nie sommer sal vergeet nie. Dis Glaskas se twintigste bestaansjaar, en die opwinding is tasbaar. Deon, lanklaas só op sy senuwees, besef skielik hoeveel mense hier is om saam met hulle hierdie mylpaal te vier. Die energie in die lokaal maak die aand besonders - nie net vir hom nie, maar vir almal wat daar is. Tussen die gehoor sit selfs ’n 80-jarige vrou langs haar seun. Ná die vertoning wag sy om vir Deon te sê hoe baie sy dit geniet het. Dit is juis hierdie soort ontmoetings wat vir Deon die laaste twee dekades besonders maak - mense wat, al sou hulle paaie andersins nooit gekruis het nie, deur Glaskas se musiek deel van sy storie word.
Twintig jaar in ’n band vra aanpassing en groei. Deon bly die liedjieskrywer, maar oor die jare het lede gekom en gegaan soos hul lewensrigtings verander. Tog is daar stalwart-lede soos tromspeler Lolke-Louis Claassen (al 19 jaar by Glaskas) en Francois Kleynhans wat kort daarna aangesluit het. Johan Viljoen is die afgelope sewe jaar deel van die groep en is ook hul vervaardiger. Elkeen bring iets unieks - en volgens Deon lê die waarde van die span veel verder as net hul musiek.

Met die jare het Deon se opinie op party ou liedjies verander. “Geagte Meneer die President” is geskryf in ’n ander tyd, en hy stem nie meer met elke woord saam nie, maar hy beskou daardie liedjies steeds as deel van sy reis en groei as kunstenaar.
In die ateljee en op die verhoog leef Glaskas hul liefde vir pop-punk voluit uit. “Die liedjie oor die meisie” is ’n speelse voorbeeld van hul punk-wortels wat van die begin af saamsing, terwyl ballades soos “Verloor Myself” wys dat hulle net so tuis is by die sagter kant van musiek. Daardie balans tussen energie en introspeksie – is wat Glaskas uniek maak.

Twintig jaar aan en Deon wil steeds eerlike, goeie liedjies skryf - sonder pretensie. Dis die mense, herinneringe en musiek wat Glaskas dryf om aan te hou speel, te groei en nuwe drome aan te jaag. Die storie is ver van klaar.
DIE VOLLEDIGE ONDERHOUD MET DEON MEIRING OOR GLASKAS EN DIE DIE VIERING VAN 20 JAAR:
Glaskas vier vanjaar 20 jaar. Wat dink jy het die groep oor dié tyd bymekaar gehou, en hoe het julle idee van wat Glaskas moet wees intussen verander?
Deon: "Deel van Glaskas se storie, van vroeg af al, was om uit te werk hoe om aanpasbaar te wees. Ek skryf die liedjies en dit het gemaak dat lede wat deur die jare ander rigtings wou inslaan dit kon doen en ons kon gelukkig nuwe mense deel maak van ons pad om steeds aan te hou speel.
Bygesê, Lolke-Louis Claassen, ons drummer, is nou al vir 19 van die 20 jaar deel van die band. So hy’s deel van ’n aansienlike deel van ons storie. So ook Francois Kleynhans wat kort ná hom deelgeword het en Johan Viljoen wat al vir die afgelope 7 jaar nie net in die band is nie, maar ook ons vervaardiger is. Dit gee so idee van hoe elkeen se bydrae ook verder as net musiek strek.
Deur die jare bring elkeen ook iets van wie hulle is in musiek en andersins. En so spoor ons mekaar aan om aan te hou."
Julle het op 9 Oktober die mylpaal by die Woordfees gevier. Watter oomblik van daardie aand het vir jou die beste vasgevang wat hierdie twintig jaar beteken?
Deon: "Die hele aand was nogal ’n groot oomblik vir my. Ek was lanklaas só op my senuwees voor ’n optrede. Bloot omdat dit regtig deurgedring het tot my dat al hierdie mense dit saam kom vier. So ek wou die beste daarvan maak.
Wat my verstom het, was dat daar selfs ’n 80-jarige vrou saam met haar seun gekom het en tot ná die show gebly het om te kom sê hoe baie sy dit geniet het. Dit sê natuurlik baie oor haar openheid en ek het dit glad nie verwag nie. Tog as ek terugdink oor die afgelope twintig jaar besef ek daar was dikwels mense wat nie tipies ons “teikenmark” moes wees nie, wat ons ook ondersteun het. Byvoorbeeld ouers of onderwysers of andersom: jonger mense wat die musiek danksy hulle ouer familielede ontdek.
Sonder om dit noodwendig te gaan uitsoek help Glaskas my al die afgelope twintig jaar om met mense te connect wat ek dalk andersins nie sou nie. Dis ’n groot voorreg en een van die beste geskenke van musiek."
Watter ou Glaskas-liedjie beteken vandag vir jou iets anders as toe jy dit geskryf het, en wat het jou perspektief daarop verander?
Deon: "Snaaks genoeg sou ek waarskynlik lank terug gedink het dis my liefdesliedjies waarvoor ek gaan cringe jare later, maar baie van daai liedjies het my eintlik verbaas. By shows as iemand vra dat ek “Geagte Meneer die President” speel spot ek dat ek nie meer noodwendig saamstem met wat ek alles in daai lirieke sê nie. Veral omdat dit in elkegeval geskryf is vir ’n president wat al lankal nie meer in sy pos is nie. Ek’s nog steeds dankbaar dat ek daai liedjies geskryf het, want dit was deel van die pad wat ek nog steeds stap om ’n beter begrip te hê van my verhouding met ons land.
“Jaap Vlooi” is ’n song wat ek gewoonlik nie op die set-list sit nie, want dit kom uit ’n tyd toe ek baie blues geluister en gespeel het. “Jaap Vlooi”is eintlik maar my speelse weergawe van ’n soort geheimsinnige figuur wat rock se ou roots in Afrikaans uitleef. Tog vra mense amper by elke show nog daarvoor en dan is dit nog steeds lekker om te speel, selfs al oefen ek nie meer so gereeld my blues toonlere nie."
Met meer onlangse liedjies soos “As Ek Weet Hoe” en “Leestekens” het julle weer nuwe materiaal by die repertorium gevoeg. Wat wil julle in Glaskas se volgende fase verken, en wat kan luisteraars volgende verwag?
Deon: "Ons het veral die laaste tyd in studio dit geniet om ons liefde vir pop-punk te vier. Dis iets wat altyd sal deel wees van Glaskas se styl en dis baie lekker om sulke energieke songs op die verhoog te speel.
“Die liedjie oor die meisie” is ’n goeie voorbeeld van die soort tong in die kies punk wat al van ons eerste album af saam met ons kom. Tog is ballades soos “Verloor Myself” nét so sinoniem met hoe mense Glaskas ken. Ons is bly dat ons nie net vir een genre of klank geken word nie. So op die ou einde wil ek net die beste songs so opreg as wat ek kan bly skryf."
--
Glaskas asook Deon Meiring se musiek is beskikbaar op alle digitale platforms, asook op ons Spotify & Apple Music Speellyste - NUWE & HERLEEF / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify






Comments