top of page

KOOS KOMBUIS: ROCK, REBELLIE EN ‘N INSPIRASIE

Oct 26
3 min read

Updated: Oct 27

Fotograaf / Johan Vividd


Koos Kombuis

Koos Kombuis is ’n sanger, liedjieskrywer en digter wat ’n unieke stempel op alternatiewe Afrikaanse musiek afdruk. Met protesliedjies en ’n skerp, dikwels satiriese humorsin, kyk hy met ’n ander oog na die samelewing. Sy musiek getuig van warmte, menslikheid en ’n liefde vir die eenvoudige dinge van die lewe.


Koos se invloed strek oor generasies. Wynand Myburgh van Fokofpolisiekar het genoem dat Koos en Johannes Kerkorrel sy loopbaan as musikant diep beïnvloed het, terwyl Hunter Kennedy die Voëlvry-beweging as lewensbelangrik vir hul generasie beskou.


Jack Parow vertel dat Koos se musiek ’n groot rol in sy grootwordjare gespeel het, terwyl Riku Lätti na hom verwys as “die stamvader van bevryde Afrikaanse musiek”. Hierdie waardering, uit verskillende hoeke, wys hoe kunstenaars elk hul eie pad volg, maar almal erken Koos se rol in die oopmaak van nuwe moontlikhede.


James Phillips, beter bekend as Bernoldus Niemand, se musiek het ’n groot invloed op Koos Kombuis gehad. Sy werk het gewys dat rockmusiek die jong Afrikaanse gehoor kon bereik en selfs die gevestigde orde kon uitdaag.


Geïnspireer het Koos toe sy eie liedjies na Shifty Records gestuur, wat gelei het tot sy debuutalbum, "Ver van die ou Kalahari", in 1987. Toe die joernalis Ralph Rabie hom oor die album genader het, het Koos voorgestel dat hulle saam optree. Ralph sou later as Johannes Kerkorrel bekend staan.



DIE VOËLVRY-JARE


voëlvry, koos kombuis
Fotograaf / Steven Hilton-Barber

Koos Kombuis het in die laat tagtigerjare by Voëlvry aangesluit, ’n groep musikante wat teen apartheid en die streng verwagtings van die Afrikaner-samelewing gestaan het.


Die Voëlvry-toer het Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, Bernoldus Niemand en die Swart Gevaar, en Koos as solokunstenaar saamgebring. Deur Afrikaans te gebruik, het hulle oor onreg gesing, vrae oor gesag gevra en bestaande idees oor kultuur en identiteit uitgedaag. Baie universiteitskampusse het die toer verbied - deels oor die ongefilterde taalgebruik, maar ook omdat hulle godsdiens en sekere Afrikanerwaardes bevraagteken het.


Voëlvry is steeds ’n belangrike deel van hierdie musiekgeskiedenis omdat dit Afrikaanse kunstenaars toegelaat het om openlik met mekaar saam te stem of te verskil.


koos kombuis
Fotograaf / Steven Hilton-Barber

DIE LIEDJIES EN DIE SKRYWER


Koos se loopbaan het ná Voëlvry net verder gegroei. In 1994 het “Elke Boemelaar se Droom” groot sukses behaal. Liedjies soos “Liza se Klavier”, “Bicycle Sonder ’n Slot” en “Johnny is Nie Dood Nie” wys die uiteenlopende kante van sy werk, party is intiem en persoonlik, ander weer polities.


Skryf was nog altyd deel van sy lewe. In boeke soos “Seks & Drugs & Boeremusiek” en “Die tyd van die kombi’s” deel hy sy eie stories, en sit hy die kollig op die unieke musiekwêreld waarin hy beweeg het.


In die afgelope dekade het “Langpad na Lekkersing” in 2017 die lig gesien danksy sy ondersteuners wat die opnames moontlik gemaak het. In 2023 het “Nag van die honde” verskyn. In 2026 bly Koos steeds skryf en teken, onder meer aan die projek Koos Komiek, en hy is gereeld op die verhoog.


Sy verhaal wys vir AIA waar Afrikaanse alternatiewe musiek begin het, en bring die liedjies en stories wat hy oor dekades geskep het, bymekaar.


Koos Kombuis keer op Saterdag 31 Oktober 2026 terug na Triggerfish Brewing in Paardevlei vir sy jaarlikse vertoning. Bespreek jou kaartjies op Quicket


--


Koos Kombuis se liedjies is beskikbaar op alle digitale platforms, asook verskeie van hul is op ons Spotify & Apple Music Speellyste - HERLEEF / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music  | Spotify







Comments


somer clank

@alternatiefafrikaans

  • Instagram
  • TikTok
  • Facebook
  • Threads
karen zoid

NUUSBRIEF

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page