FRANCOIS VAN COKE EN ZAAN SONNEKUS LEEF VOLUIT IN “LEWE”
Updated: Sep 3

Francois van Coke en Zaan Sonnekus is terug met “LEWE”, hul tweede enkelsnit saam ná “Almal Baklei” in 2023. Hierdie keer gaan dit minder oor baklei en meer oor die soort oomblikke wat ’n mens nie te lank moet uitstel nie.
“Die song gaan oor in die oomblik te lewe en soveel daarvan maak,” sê Francois.
Dit is ook presies die gees waarmee die twee kunstenaars die meegaande musiekvideo aangepak het. Die video volg hulle deur ’n paar dae vol dinge wat hulle waarskynlik nog altyd wou doen. Hulle gaan branders ry, jaag met go-karts, tatoeëer mekaar en maak saam met die inwoners van ’n ouetehuis musiek. Daar is selfs tyd om by Danie du Toit van Spoegwolf te leer hoe om braaibroodjies te verf. Die kamera is daar, maar die vriendskap tussen Francois en Zaan bly die middelpunt.
Dié vriendskap loop ook deur die liedjie self. Francois sê hy herken iets van sy jonger self in Zaan, veral daardie totale oorgawe aan musiekmaak. Vir Zaan dra die samewerking weer ’n ander soort gewig. Hy het met Francois se musiek grootgeword en beskryf hom as die kunstenaar wat vir hom gewys het hoe ’n mens ’n pad vir Afrikaanse rock oopkap. Dat hy Francois nou as vriend én mentor kan beskou, bly vir hom surrealisties.
“Dit het amper minder soos ’n musiekvideo gevoel en meer soos twee vriende wat herinneringe maak terwyl die kameras toevallig aan is.” vertel Zaan.
Selfs die enkelsnit se kunswerk kom uit hul tyd saam: dit is ’n foto van ’n tatoeëermerk wat Zaan op Francois se been gedoen het. Francois het ook vir Zaan ’n tatoeëermerk gegee, hoewel dié een ongelukkig nie die finale kunswerk gehaal het nie.
---
Julius Bekker van RFND Photography het die musiekvideo verfilm en die los energie van die paar dae vasgevang. Die eindresultaat voel minder soos ’n opgevoerde produksie en meer soos twee kunstenaars wat eenvoudig besluit het om die oomblik te geniet.
Francois en Zaan neem dieselfde energie op 9 Oktober na Francois van Coke & Vriende 2026 by die SunBet Arena, Time Square in Pretoria.
Hul vrystelling “LEWE” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, asook op ons Spotify & Apple Music Speellyste - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify






Comments