top of page

BLITZ: NUWE ALBUM VERTEL HUL STORIE OP VOLLE VOLUME

Nov 20
3 min read

Updated: Nov 21

Verskaf / AfriKalt


BLITZ


Van hul tuisdorp Strand tot op verhoë regoor die land het BLITZ hul musiek aan nuwe gehore gaan voorstel. Langs die pad was daar ’n oorwinning by Aandklas se Battle of the Bands, ’n landswye toer en ’n verhoog wat hulle met Fokofpolisiekar gedeel het. Nou kry dié verhaal ’n volgende hoofstuk met hul nuwe album, N.N.D.


Vir hoofsanger en kitaarspeler Johan Verdoes is dit ’n vreemde gevoel om die liedjies wat hulle eens teen maksimum volume in ’n klein kamer gespeel het, nou met almal te kan deel.


“ Trots op al die Blitz manne en opgewonde vir die volgende fase van Blitz, ” sê Johan.


Dié vyfmanband se benadering is reguit: kragtige kitaarriffs, drywende ritmes en rou punkrock-energie. Voeg daarby ’n rebelse houding en ’n voorliefde vir ’n behoorlike jol, en jy begin ’n idee kry van wat BLITZ aan die gang hou.


Saam met Johan staan PJ Jansen van Rensburg op ritmekitaar en agtergrondsang, Seth Lekas op baskitaar en Alec Forster op tromme. James Gasson voltooi die groep op saksofoon en klawerbord, wat die instrumentasie verder as die gewone kitaar-, bas- en tromkombinasie laat strek. Vir PJ dra die album ook ’n besondere persoonlike betekenis. Die opnames was reeds klaar toe hy by die groep aangesluit het. Hy het BLITZ voorheen lewendig gesien en gedroom om deel van so iets te wees. Toe die uitnodiging kom, was sy antwoord ’n maklike ja.


“ Die album is ’n keerpunt in my lewe,” sê hy. “Ek was nog altyd ’n fan van Blitz en nou is ek ’n member van Blitz. ”


Die verhoog vorm ’n belangrike deel van hul storie. Ná hul oorwinning by Aandklas het BLITZ as deel van Die Boere Punk Toer die pad gevat en met gehore regoor Suid-Afrika kontak gemaak. Om ook reeds ’n verhoog met Fokofpolisiekar te kon deel, voeg nog ’n noemenswaardige mylpaal by dié opkomende groep se naam.


Met N.N.D bring hulle daardie lewendige energie na die album. Die fokussnit, “VAT ’N SLUK”, lei die vrystelling en plaas die groep se energieke rockbenadering voorop. Vir Seth lê die betekenis van die album ook in hoeveel van hulself daarin vasgevang is.


“Hierdie album is vir ons meer as net ’n klomp songs wat bymekaar gesit is. Dit is ’n weerspieëling van wie ons is, waar ons vandaan kom en alles wat ons deur musiek probeer sê,” sê hy.




--


Agter die vrystelling staan AfriKalt, ’n Afrikaanse kuns- en kultuurkollektief wat geleenthede skep vir kunstenaars wat hul eie rigting inslaan. Hulle werk met musiek talent in hierdie breër kreatiewe wêreld, met ’n fokus op individualiteit, onafhanklike denke en kreatiewe uitdrukking.


Die album vier Afrikaanse identiteit deur ’n rou rock- en punkklank waarmee die groep hul eie stempel wil afdruk. Daarmee voeg hulle hul stem by die uiteenlopende klanke van die Afrikaanse alternatiewe musieklandskap. Vir luisteraars wat BLITZ nog nie op ’n verhoog raakgeloop het nie, bied die album N.N.D ’n plek om te begin. Vir dié wat reeds saam voor die verhoog gestaan het, gaan die jol nou verder.


BLITZ vier die bekendstelling van hul album op Saterdag 21 November by Aandlas in Stellenbosch, met Karriers en Vrydenk Effek ook op die program. Toegang is gratis.


BLITZ se nuwe album, N.N.D, is nou beskikbaar op alle groot digitale musiekplatforms as ook op AIA se speellyste - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music  | Spotify





Comments


somer clank

@alternatiefafrikaans

  • Instagram
  • TikTok
  • Facebook
  • Threads
karen zoid

NUUSBRIEF

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page