SOMERKLANKE: BRING MUSIEKVRIENDE BYMEKAAR VIR DEON MEIRING
Verskaf / Foto: MJ Stoltz

Vir Deon Meiring, bekend as lid van Glaskas, lyk die komende weke anders as wat hy sou beplan het. Ná ’n ernstige motorongeluk op pad huis toe van ’n huiskonsert kan hy vir eers nie optree nie. Nou gaan van sy mede-musikante die verhoog deel om hom te help terwyl hy herstel.
Somerklanke - Vir Deon vind op Sondag 13 Desember by Festa op Kleinevalleij Estate tussen die Paarl en Wellington plaas. Spoegwolf, Van Der Aven, Luzelle, Dani Villé en Kruger & Tutu is op die program, met Andrea Hurter as seremoniemeester.
Die geleentheid is gereël nadat Deon op Saterdag 7 November buite Durbanville in die ongeluk betrokke was. Hy het verskeie beserings, waaronder veelvuldige bekkenbreuke, opgedoen. Volgens die organiseerders herstel hy in ’n rehabilitasiesentrum in die Paarl, en is dit nog onseker hoe lank sy herstel gaan duur. Met Deon wat voorlopig nie kan optree nie, het sy vriende en mede-musikante begin planne maak om hom prakties en finansieel by te staan.
“Toe ons hoor wat met Deon gebeur het, was die onmiddellike reaksie onder sy vriende en mede-musikante eenvoudig: hoe kan ons help?” sê organiseerder Theunis van der Merwe.
“Deon het oor die jare soveel mense met sy musiek en menswees geraak. Somerklanke is ons manier om as gemeenskap saam te staan, ’n wonderlike dag saam met gesinne te geniet en terselfdertyd ’n daadwerklike verskil te maak sodat hy op sy herstel kan fokus.”
Dié ondersteuning sluit meer as net mediese uitgawes in. Al die winste uit die fees gaan direk aan Deon om ook met verlore inkomste, die herstel van sy kitaar en sy verdere herstelpad te help.
--
Somerklanke word as ’n ontspanne somermusiekfees vir die hele gesin aangebied. Kos en drank sal by die venue beskikbaar wees, en kinders jonger as 12 kry gratis toegang wanneer hulle deur ’n volwassene vergesel word. Die hekke open om 11:00.
Kaartjiepryse styg weekliks namate die fees nader kom:
23–29 November: R200
30 November–6 Desember: R250
7–13 Desember: R300
Kaartjies is beskikbaar by Quicket
Vir mense wat nie die fees kan bywoon nie, bly die bestaande BackaBuddy veldtog vir Deon Meiring oop vir bydraes. Ondersteuners kan ook help deur die veldtog en feesbesonderhede te deel.







Comments