top of page

AFRIKALT SE 'BOERE PUNK TOER' VAT DIE PAD

Sep 10
2 min read

Updated: Sep 11

BOERE PUNK TOER 2026


Vyf dorpe, vyf aande en ’n sterk dosis alternatiewe Afrikaanse musiek: AfriKalt se Boere Punk Toer trek van 15 tot 19 September deur die land met ’n wisselende groep kunstenaars.


AfriKalt skop op 15 September sy Boere Punk Toer by Bohemia in Stellenbosch af. Van daar beweeg die toer deur Burgersdorp, Bloemfontein en Klerksdorp, voordat dit op 19 September by Railways Café in Centurion tot ’n einde kom.


Karel Bester & Die Kraaines Band en Blitz vorm deel van die toer, saam met Worsie van Wyk, Skrikkeljaar, Kosmos, Tydloos en Nikotien. Verskillende kombinasies van kunstenaars sal deur die loop van die vyf aande saam op die verhoog verskyn.


Die toer se klank beweeg tussen boeremusiek, psigedeliese invloede, rock ’n roll en punk. Dit bring kunstenaars met verskillende style bymekaar, maar met dieselfde rou en onafhanklike aanslag.


AfriKalt vat die pad met ’n rou, onafhanklike en doelbewus onverskonende vertoon van wat tans in die ondergrondse Afrikaanse musiektoneel gebeur, sê stigter Damian du Preez Strydom.


--


VAN BOEREMUSIEK TOT PUNK. Karel Bester & Die Kraaines Band se eiesoortige mengsel van boeremusiek, psigedeliese musiek en punk het reeds vir hulle ’n herkenbare plek in die plaaslike musiektoneel geskep. Die groep se 2026-album, ONKRUID, is vanjaar vir ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning in die kategorie Beste Rock-album benoem.


Blitz bring op hul beurt rou rock ’n roll-punk van die kus af. Die groep sluit wenners van Aandklas se Battle of the Bands 2025 in en het reeds aandag getrek met liedjies soos “Fluit Fluit”, “Walki Talki” en “Ek weet nie waar ek is nie”. Worsie van Wyk, Skrikkeljaar, Kosmos Ens, Tydloos en Nikotien sluit op verskillende aande by die toer aan en help om elke vertoning sy eie samestelling en energie te gee.


Volgens Damian is die toer gemik op alternatiewe Afrikaanse musiek wat nie probeer om dit veilig te speel nie.


Daar is ’n groot verskil tussen alternatiewe Afrikaanse musiek wat dit veilig speel en alternatiewe Afrikaanse musiek wat grense verskuif. Die Boere Punk Toer is gebou vir laasgenoemde, sê hy.

BOERE PUNK TOERDATUMS


  • 15 Sept - Karel Bester en die Kraaines & Blitz / Bohos, Stellenbosch

  • 16 Sept - Karel Bester en die Kraaines & Blitz / Kreatief, Burgersdorp

  • 17 Sept - Karel Bester en die Kraaines & Blitz /  Aasvoël Club, Bloemfontein

  • 18 Sept - Karel Bester en die Kraaines, Blitz, Tydloos & Nikotien / Café Amsterdam, Klerksdorp

  • 19 Sept - Karel Bester en die Kraaines, Blitz, Worsie Van Wyk, Kosmos en Skrikkeljaar / Railways Cafe, PTA


Met vyf vertonings op vyf agtereenvolgende aande bied die Boere Punk Toer ’n lewendige kollig op van die klanke en kunstenaars wat tans aan die harder, vreemde en meer ongetemde kant van Afrikaanse musiek werk.







Comments


IMG_2128.jpeg

@alternatiefafrikaans

  • Instagram
  • TikTok
  • Facebook
  • Threads
IMG_5275.JPG

NUUSBRIEF

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page