ZAAN SONNEKUS: 15 LIEDJIES EN HY HOU NIKS TERUG NIE
Updated: Nov 17
Verskaf / Foto's: Full Spectrum Studio

Daar is die geraas van die wêreld om jou, en dan is daar die stil oomblikke wanneer jy met jou eie gedagtes sit. Dit is dié kontras wat die titel van Zaan Sonnekus se nuwe album, Tussen Die Stilte en Geraas, beskryf. Die album verskyn op 13 November en bring 15 liedjies oor liefde, verlies, rebellie en seerkry bymekaar.
Zaan se musiek maak plek vir die dinge waaroor ’n mens nie altyd maklik praat nie. Met sy rou lirieke en reguit aanslag sing hy oor die lewe se moeiliker oomblikke. Op hierdie album strek daardie eerlikheid van Haat My en Bliksem Dit Gaan Seer Wees tot die besonder persoonlike Waar Die Engele Rook, wat hy vir sy ma geskryf het.
Aanhangers het reeds met Haat My en Bliksem Dit Gaan Seer Wees ’n voorsmakie van die album gekry. Môre, 11 November, volg Sorry Oom, die laaste enkelsnit voordat die volledige album Vrydag beskikbaar is.
Ons het reeds na die album geluister, en glo ons: die enkelsnitte is net die begin. Daar wag nog baie tussen dié 15 snitte, en ons sien uit daarna dat julle die res ook kan hoor.
--
Die volledige snitlys lyk só:
Sonder Jou
ouderDOM
Bad Reputasie
Stupid
Spoed 2
Breek Die Reëls
Bliksem Dit Gaan Seer Wees
Haat My
Die Water
Drome & Boland Bad Boys
Genadedood
Syne
Sorry Oom
November Reën
Waar Die Engele Rook
Met Waar Die Engele Rook as slot kry die liedjie vir sy ma die laaste woord op die album. Dit is een van die persoonlike stories op ’n versameling waarin liefde en seerkry ook met rebellie ruimte deel.
Die nuwe musiek kry ook binnekort ’n verhoog. Zaan stel die album op 12 en 13 November by The Barnyard Theatre in Menlyn bekend. Daar is verrassings in die vooruitsig, maar presies wat aanhangers kan verwag, bly voorlopig onder die deksel.
Zaan Sonnekus se nuwe album, Tussen Die Stilte en Geraas, verskyn op 13 November op alle groot digitale musiekplatforms. Van die enkelsnitte wat reeds uit is, kan jy nou op ons speellyste ook kry - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify






Comments