WELKOM BY KROGKORP: 'JANTJIE KROG' MAAK VAN PUNK ’N KORPORATIEWE NAGMERRIE
Updated: Sep 16

Dierbaar se Janke Mostert betree Krogkorp, ’n vreemde wêreld waar musiek, satire en teater in ’n interaktiewe ervaring bots. Wanneer Jantjie Krog op 18 September by Daisy Jones Bar in Stellenbosch optree, woon die gehoor nie bloot ’n konsert by nie. Hulle meld vir ’n vergadering by Krogkorp aan.
Jantjie Krog is die nuwe solo-alter ego van Janke Mostert, bekend as sangeres en liedjieskrywer van die Afrikaanse punkgroep Dierbaar. Hoewel sy nog geen ateljeemusiek onder dié naam uitgereik het nie en Daisy Jones slegs haar tweede optrede sal wees, bestaan daar reeds ’n volledige wêreld rondom die karakter.
Dié wêreld funksioneer as ’n interaktiewe, sosialemedia-gebaseerde ARG, oftewel ’n alternate reality game. Verskillende platforms, karakters en leidrade skep ’n fiktiewe werklikheid wat met die alledaagse lewe oorvleuel. Volgens Janke is dit, sover sy weet, die eerste Afrikaanse projek van dié aard.
--
Krogkorp is meer as ’n aanlyn storie. Elke optrede word as ’n korporatiewe vergadering aangebied, kompleet met witborde, PowerPoint-aanbiedings, absurde besprekingspunte en nuwe brokkies “lore”. Die gehoor kyk nie net toe nie, maar word deel van die sogenaamde onderneming en sy toenemend bisarre wêreld.
In die middel daarvan staan Jantjie Krog, ’n doelbewus ongemaklike karakter met iets van Michael Scott uit The Office in haar. Deur dié karakter spot Janke met hoe ernstig Afrikaanse mense soms oor die verkeerde dinge raak.
" Ek vat ‘n bietjie gat met hoe ernstig Afrikaanse mense oor al die verkeerde goed is: AI-vrees, selfgesentreerdheid en ‘n gebrek aan kommunikasie," sê Janke.
Juis die kombinasie van punk, teater, internetkultuur en sosiale kommentaar maak Jantjie Krog anders. Dit is nie net ’n verhoognaam nie, maar ’n groeiende multimediawêreld waarin elke optrede nog ’n deel van die storie openbaar.
Jantjie Krog deel die verhoog met The Buckfever Underground en Kobus en die Bomskokbende, Vrydag 18 September by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch. Deure maak om 17h00 oop en die vertoning begin om 19h30. Kaartjies kos R150 via Quicket.
Vir gehore wat moeg is vir voorspelbare vertonings, beloof die aand musiek, satire en ’n korporatiewe krisis waarvoor niemand voorbereid is nie. U is gewaarsku.
Hou AIA se sosiale platforms dop vir ’n opvolgvideo waarin Janke meer oor Jantjie Krog en die vreemde wêreld van Krogkorp vertel.






Legend ❤️ 🐈