top of page

NUWE VRYSTELLING: NIKOTIEN, MEER AS NET 'N LIEDJIE

  • Jun 12
  • 2 min read
nikotien
Verskaf / Fotograaf: Margorie Jacobs

Vir die Afrikaanse rockgroep Nikotien is hul jongste enkelsnit, Nikotien, veel meer as net nog 'n vrystelling. Volgens die groep is die lied in sy kern 'n liefdesbrief aan rockmusiek en die invloed wat dit oor die jare op hul lewens gehad het. Die lied ondersoek temas van verlore voel, selfontdekking en die rol wat musiek speel wanneer die lewe nie altyd sin maak nie. Volgens die groep handel die eerste vers oor die gevoel dat mense dikwels verwag dat jongmense verlore moet voel, maar dat daardie onsekerheid nie noodwendig met ouderdom verdwyn nie.



nikotien


"Ons is nie verlore omdat ons jonk is nie, maar omdat ons mens is," verduidelik die groep oor die boodskap van die lied.


Met die koor reageer Nikotien op hierdie gedagte deur te verwys na die manier waarop mense hulself in musiek probeer vind. Die frase "verslaaf aan nikotien" dien as 'n metafoor vir die troos, identiteit en betekenis wat musiek vir baie mense bied. Die groep verwys ook subtiel na die invloed wat Fokofpolisiekar op hulle as musikante en individue gehad het.


Die lirieke van Nikotien is deur Ju-Hanco Minnaar geskryf, terwyl die lied deur die groep as geheel getoonset is. Volgens Minnaar het die idee vir die lied ontstaan net ure voor een van hul optredes in Potchefstroom.


"Die idee vir die liedjie het as iets begin wat ons kan speel sodat mense ons naam onthou. Iets wat in jou kop vassit," vertel hy.


Waar vorige uitreikings soos '30 Kilos na Parys' en 'Keer op Keer' verskillende kante van die groep se klank gewys het, sê die groep dat Nikotien geen twyfel laat oor wie hulle is nie. "Met 'Nikotien' is daar geen manier dat mense kan twyfel oor of hul 'n rockgroep is of nie. Vir Nikotien bly eerlikheid die kern van hul musiek. In 'n wêreld wat volgens hulle al hoe meer kunsmatig voel, glo die groep dat musiek steeds een van die rouste vorme van waarheid is.


Die enkelsnit is ook vervaardig deur Kyle Botha, wat gehelp het om die groep se rou rockklank en eerlike boodskap na vore te bring.


'Nikotien” is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.

Luister hom ook op ons NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS Speellys: Apple Music | Spotify







Comments


© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page