NUWE MUSIEK: FRANCOIS VAN COKE SE 'Nagmerries (Bye Bye Baby)'.
- Apr 23
- 1 min read

Francois van Coke skop 2026 af met die vrystelling van sy nuwe enkelsnit en musiekvideo, “Nagmerries (Bye bye baby)”, die eerste van vier beplande vrystellings vir die jaar.
Volgens Van Coke is die lied gebore uit ’n herhalende nagmerrie wat hom gereeld terugneem na ’n ongemaklike tyd in sy lewe. Met hierdie song probeer hy daardie fase groet en afsluit. Hy noem ook dat hy sedert die lied geskryf is, nie weer die nagmerrie ervaar het nie, wat vir hom wys dat die proses dalk iets opgelos het. Die lied is nie net persoonlik nie, maar raak ook aan ’n groter tema. Dit is geskryf in ’n tyd waar Afrikaanse KI-kunstenaars begin opkom, en hy probeer in die lirieke ook die mens se verhouding met tegnologie en die effek daarvan ontleed.
Musikaal is die koorgedeelte beïnvloed deur twee uiteenlopende bands, Violent Femmes en Ghost, wat ’n interessante dinamiek aan die lied gee. “Nagmerries (Bye bye baby)” is geskryf saam met Fred den Hartog, een van Van Coke se ou medewerkers.

Die musiekvideo is vervaardig deur Jacques van Rensburg (Vanartist) en is hul eerste samewerking. Die konsep fokus daarop om die gevoel van ’n droom vas te vang, daardie frustrasie wanneer jy probeer baklei of iets skep, maar jou liggaam nie saamwerk nie, en tyd amper begin terugbeweeg.
“Nagmerries (Bye bye baby)” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, saam met die musiekvideo wat reeds aanlyn gekyk kan word. Kyk hom hier:




Comments