EMILE HAGER: SKRYF UIT ’N PLEK VAN WAARHEID MET “JY”
Updated: Sep 3

Emile Hager is dalk vir baie Suid-Afrikaners ’n bekende gesig van die skerm, maar musiek vorm lank reeds deel van sy kreatiewe wêreld. Ná die sukses van sy debuutsnit “Ek Wil” skuif hy dié hoofstuk nou verder oop met drie nuwe enkelsnitte wat oor die volgende paar maande verskyn.
Die eerste hiervan, “Jy”, is ’n toonsetting van ’n gedig en fokus op daardie intense oomblik waarin ’n mens voel jy behoort volkome aan iemand, hart, liggaam en siel. Dit pas by Hager se benadering tot skryf, waar persoonlike waarheid en intensie sentraal staan.
---
“Ek verkies om my eie lirieke te skryf. Ek voel dis die enigste opsie vir my, ek moet eerlik en myself wees.”
Vir Hager gaan dit daaroor om dit wat hy skep diep in sy eie psige te anker, sodat dit uit ’n plek van waarheid kom. Daardie emosionele benadering word aangevul deur ’n besonderse wye versameling musikale invloede. Sy vroegste herinneringe sluit Edith Piaf in, met Dido wat later die klankbaan van sy tienerjare geword het. Vandag tel kunstenaars soos Radiohead, Björk en Maria Callas onder sy invloede, terwyl filmklankbane ’n besonder groot rol speel in die filmiese kwaliteit van sy eie musiek.
Dit is ’n wêreld waarmee Emile reeds goed vertroud is. Hy werk die afgelope 14 jaar as akteur, skrywer en sanger in die plaaslike én internasionale bedryf. Hy het van kleins af klassieke sangopleiding ontvang en in 2010 ’n graad in Drama aan Tukkies verwerf.
Met “Jy” en die twee enkelsnitte wat daarna volg, begin hy ’n groter beeld van sy identiteit as musikant vorm. Hier kom storievertelling, emosie en ’n filmiese benadering bymekaar.
“Agter Gelos” en “Silwer Son, Goue Maan” volg oor die komende maande.
Die nuutste enkelsnit “Jy” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, asook op ons Spotify & Apple Music Speellyste - NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS: Apple Music | Spotify






Comments