top of page

EKSKLUSIEF: FRANCOIS VAN COKE - TUSSEN TREINE, VLUGTE EN VERHOË

  • May 31
  • 5 min read
Francois van Coke


Van Londen en Birmingham tot Gent en Amsterdam, Francois van Coke, hoofsanger van Fokofpolisiekar, vertel van die toerlewe, herinneringe en die oomblikke tussen die shows tydens hul onlangse Europese avontuur. Vir baie mense is ‘n internasionale toer die foto’s op die verhoog, die uitverkoopte venues en die energie van die skare. Vir Fokofpolisiekar lê baie van die storie egter tussen die shows ook.


Tydens die groep se onlangse Europese toer het Francois van Coke aanhangers saamgeneem op die reis deur middel van persoonlike toerinskrywings wat die alledaagse oomblikke van die pad vasgevang het. Van vroeë oggende in Londen en treinritte tussen plekke tot wandelings deur Gent en Amsterdam, het die inskrywings ’n oomblik gegee op die lewe agter die verhoog.


Die toer het onder meer stoppe in Londen, België en Nederland ingesluit. Dae van reis, klanktoetse en optredes is afgewissel met besoeke aan historiese musiekbestemmings, ontmoetings met ou vriende en nuwe aanhangers, en die ontdekking van plekke wat lank op die groep se "bucket-list" was.


Een van die hoogtepunte vir Francois was die besoek aan Birmingham se Black Sabbath-landmerke.


"Ek is ’n moerse Black Sabbath-fan. Ek dink almal in Fokofpolisiekar hou van Black Sabbath, maar ek en Alan, ons merch dude en road manager, is rock nerds.” vertel Francois.





Hoewel 'n internasionale toer oor die afgelope twee dekades vir die groep baie verander het, sê Francois die opwinding van nuwe plekke en nuwe gehore bly dieselfde.


Die toer het ook gewys hoe wyd Fokofpolisiekar se invloed strek. Volgens Francois het hulle tydens die reis Britse en Franse aanhangers ontmoet wat Afrikaans leer deur die groep se musiek, iets wat hy as ’n besondere voorreg beskryf.


Miskien is dit juis waarom hy besluit het om hierdie toer deeglik te dokumenteer. Nadat hy ou toer inskrywings van jare gelede weer gelees het, het hy besef hoe waardevol daardie herinneringe geword het.


“Ek het gedink ek gaan hierdie trip ’n bietjie journal en dan kan ek dalk weer daarna kyk oor twintig jaar,” vertel hy.


Meer as twintig jaar nadat Fokofpolisiekar die eerste keer gehore begin vermaak het, is die groep steeds besig om nuwe stories te versamel, nuwe gehore te bereik en nuwe herinneringe op die pad te maak.





Francois van Coke vertel verder oor die toer, sy toerinskrywings en hoe internasionale toer oor die jare verander het.


V: Fokofpolisiekar toer al vir twee dekades ook internasionaal. Hoe het die ervaring van oorsee toer verander van die vroeë dae van die band tot nou?

A: "Dit het nogal baie verander. Ons drink drasties minder! In die vroeë dae was alles nuut en onbekend, en ons het aan alles deelgeneem so hard as wat ons kon. Dit is nou nog steeds lekker om internasionale shows te speel, en meeste van die venues wat ons nou speel, is ook nuut en onbekend, wat dit interessant hou. Ons het vanjaar vir die eerste keer met Fokof in Australië gespeel, en op die laaste trip nou ook nuwe venues in die UK en België gespeel. Ek neem definitief meer in as wat ek in my jonger dae gedoen het, en ek shop ook meer, want ek het nou ’n familie vir wie ek graag geskenke wil koop op die pad. Ons speel ook natuurlik die laaste paar jaar vir meer mense as wat ons in die ou dae gespeel het"


V: Julle toer-plasings op sosiale media het baie van die rouer kant van toer gewys, die lang reise, min slaap, "backstage chaos" en alles wat tussen die shows gebeur. Het daai “tussenin” moments oor die jare vir julle amper net so betekenisvol geraak soos die tyd op die verhoog self?

A: Ek het actually ’n toer 'report' uit ons ou dae gelees terwyl ons nou op toer was, en gedink dit is nogal lekker om twintig jaar later daarna terug te kyk. Toe dink ek ek gaan hierdie trip ’n bietjie 'journal', sodat ek dalk oor twintig jaar weer daarna kan kyk. Ons is baie gelukkig dat ons as Fokofpolisiekar so goed gedokumenteer is deur die jare, en die goed wat tussenin gebeur, is baie belangrik vir ons. Ons is ook goeie pelle, so alles vorm deel van ons vriendskappe en verhoudings. Mens praat definitief meer oor wat op die pad gebeur het as oor die tye op die verhoog."


V: Birmingham het obviously ’n groot geskiedenis rondom die heavy metal band 'Black Sabbath' en die ontstaan van heavy metal. Hoe spesiaal was dit om daai plekke self te beleef as musikante wat ook uit ’n sterk alternatiewe DIY rock kultuur kom?

A: Ek is ’n moerse Black Sabbath-fan. Ek dink almal in Fokofpolisiekar hou van Black Sabbath, maar ek en Alan, ons 'merch-dude' en 'road manager', is behoorlike rock-nerds. Ons is gewoonlik die ouens wat die interressante- en ander rock-verwante plekke gaan verken. Ek hou maar net van daai stupid rock nerd-goed. Dit was cool om die eerste venue waar hulle gespeel het te sien. Ek wil volgende keer graag ’n trippie Liverpool toe maak om al die Beatles-goed te gaan verken ook.


V: Julle shows trek nie net Suid-Afrikaners nie, maar ook mense wat nie noodwendig Afrikaans praat of uit Suid-Afrika is nie. Hoekom dink julle resoneer die energie en eerlikheid van Fokofpolisiekar steeds met mense buite die kultuur?

A: Dit was mal om Britse en Franse mense op die trip te ontmoet wat Afrikaans leer as gevolg van Fokofpolisiekar. Ek hoop hulle ervaar die energie en passie van die live shows, en dat dit hulle inspireer om Afrikaans verder te verken. Dit is ’n voorreg om te hoor dat hulle belangstel in ons band en ons taal.


V: Ná meer as 20 jaar as band, hoe het julle verhouding met die songs verander wanneer julle dit live speel? Is daar tracks wat nou ’n heeltemal 'n anderse gevoel dra as vroeër?

A: "Yes, baie van die vroeë liedjies sou ek nie op my eie tyd geluister het nie, maar om dit te speel vir mense wat steeds aanklank daarby vind, maak dit nog steeds spesiaal, twintig of drie-en-twintig jaar later. Ons het vanjaar ’n klomp songs van ons Swanesang-album gespeel wat ons nie gereeld speel nie. Hunter se lirieke, en om daai melodieë weer te sing maak my baie nostalgies en vat my terug na presies hoe dit gevoel het om in die vroeë 2000's saam met mal mense in ’n huis te woon.


V: Fokofpolisiekar het nog altyd eerlike, rou storievertelling gedra sonder om 'trends' na te jaag. Hoekom dink julle resoneer daai tipe musiek nog steeds met nuwe generasies luisteraars?

A: "Ons probeer eerlik wees met onsself en met ons omstandighede. Ek hoop ’n nuwe generasie luisteraars vind steeds aanklank daarby."


Vir meer volg vir Francois van Coke & Fokofpolisiekar hier




1 Comment


Lekker bud!

Like

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page