DJ ELSTER BRING VARS ENERGIE NA SPOEGWOLF SE “CLOETESVILLE”
- KARLA BOSCH
- Oct 10
- 2 min read
Maak plek vir ’n nuwe golf in die Afrikaanse musiektoneel! Elster, die talentvolle DJ vanaf Mosselbaai wat tans in Johannesburg woon, staan gereed om sy stempel af te druk met die amptelike vrystelling van Spoegwolf se “Cloetesville” (Elster Remix) op 10 Oktober 2025.

Met meer as ’n dekade se ervaring agter die draaitafels is Elster bekend vir sy elektriese house-sets wat groot skares by feeste soos H2O laat dans. Tog het sy pad in 2020 ’n nuwe rigting ingeslaan toe hy sy hart verloor het op Afrikaanse musiek. Ná sy eerste Afrikaanse rock-show saam met Francois van Coke in Mosselbaai het hy besef dat die genre nie net energie bring nie, maar ook ’n unieke genesende krag dra. Kort daarna het Spoegwolf sy grootste inspirasie geword.
Wat as ’n toevallige ontmoeting by ’n Spoegwolf-skoolkonsert begin het, het vinnig ontwikkel in ’n kreatiewe vennootskap. Toe Elster sy eerste remix van “Verander” aan die band wys, was dit Danie du Toit self wat opgewonde reageer het: “Love it, ek speel dit hard in die kar - maak meer!” Daardie oomblik het die vonk geword wat Elster se pad in Afrikaanse remixes aangevuur het.
Teen 2025 het Elster reeds mylpale bereik wat hy as “onwerklik” beskryf. Hy het ná Spoegwolf self op die verhoog by Sognange in Randburg gespeel en saam met die band “Cloetesville” live voor meer as 8 000 mense op die Op Ys-verhoog uitgevoer.
Nou kom die sirkel vol met die amptelike vrystelling van “Cloetesville (Elster Remix)”, die eerste van drie Spoegwolf-remixes wat nog hierdie jaar die lig gaan sien. En volgens Elster is daar nóg verrassings in die pyplyn vir 2025.
Buite die musiek bly Elster ’n trotse gesinsman, geïnspireer deur sy vrou en drie kinders. Tog is hy altyd gereed om sy unieke energie na feeste en venues regoor die land te bring. Een ding is seker: Suid-Afrika kan nog baie van Elster verwag.
Luister 'Spoegwolf - Cloetesville (Elster Remix hier:

















Comments