AFRIKAANS KRY SY EIE AMPTELIKE MUSIEK CHART SHOW: DIE TJAART!

'n Nuwe hoofstuk vir Afrikaanse musiek breek hierdie week aan met die bekendstelling van Die TJAART! – Die Afrikaanse Musiek Chart Show, wat op Donderdag 6 Augustus om 19:00 sy première op YouTube maak. Aangebied deur Reandi Grey, tel die program elke maand die Top 20 grootste Afrikaanse treffers in Suid-Afrika af.
Wat Die TJAART! anders maak, is dat die ranglys nie deur stemme of menings bepaal word nie. Die posisies word saamgestel uit amptelike Spotify-, YouTube- en YouTube Music-data, gebaseer op die gemiddelde daaglikse strome en kyke van elke lied. Met ander woorde, julle luister en kyk, en hulle tel.
Benewens die maandelikse Top 20, kan kykers ook uitsien na die jongste nuus uit die Afrikaanse musiekbedryf, eksklusiewe onderhoude met kunstenaars, agter-die-skerms-inhoud en interessante stories oor die musiek waarna Suid-Afrika luister.

Die eerste episode verwelkom Zaan Sonnekus as ateljeegas, waar hy gesels oor sy nuwe seisoen as kunstenaar en sy splinternuwe enkelsnit. Die ranglys vir die première is saamgestel uit data wat tussen 1 Junie en 22 Julie 2026 ingesamel is. Dit bied 'n unieke kollig op waarna Afrikaanse musiekliefhebbers die meeste geluister en gekyk het gedurende dié tydperk.
Die avontuur eindig nie by die program nie. Die TJAART! se sosialemediaplatforms gaan propvol eksklusiewe inhoud wees, insluitend ekstra kunstenaarsmateriaal, agter-die-skerms-oomblikke, kompetisies, giveaways en interaktiewe gesprekke met kykers.
Die eerste episode van Die TJAART! - Die Afrikaanse Musiek Chart Show première op Donderdag 6 Augustus om 19h00, slegs op YouTube.
Die TJAART! YouTube Kanaal: kliek hier






Comments