VAN DER AVEN STEL NUWE ENKELSNIT “IS EK MAL” VRY
- KARLA BOSCH
- Oct 3
- 2 min read
Updated: Oct 5
Op 3 Oktober het die Suid-Afrikaanse rockgroep Van Der Aven hul splinternuwe enkelsnit, “IS EK MAL”, vrygestel - ’n opvolg wat kort op die hakke van hul vorige snit, “My Huis”, kom. Waar “My Huis” meer intiem en verhalend was, duik die band met hierdie nuwe lied kop eerste in die rock-genre, en bied luisteraars ’n energieke uitnodiging om saam te sing, te skree en kop te skud.

“Die tema van liefde kom gereeld op wanneer ek skryf, en met IS EK MAL is dit geensins anders nie. Die lied vertel die storie van hoe ek en my vrou mekaar ontmoet het, en hoe ’n mens se lewe kan verander wanneer jy jou persoon vind,” verduidelik hoofsanger en liedjieskrywer Roelof van der Merwe. Hy voeg by dat die inspirasie dikwels uit alledaagse oomblikke kom. “Paul (ons dromspeler) se ma sê altyd: ‘Liefde tref jou soos ’n groot k#k!’ en dit beskryf perfek waaroor IS EK MAL gaan. ’n Mens leef vasgevang in jou roetine, en dan onverwags ontmoet jy iemand wat jou hele wêreld verander.”
Die band het weer saamgewerk met die ervare Jürgen von Wechmar van Sunset Studios, wat ook verantwoordelik was vir hul vorige produksies. Gitaris Theunis sê: “Dis altyd ’n ongelooflike voorreg en eer om saam met Jürgen te werk. Hy het net die vermoë om die beste in ons uit te bring en presies die klank vas te vang waarna ons soek.” Hierdie keer wou Van Der Aven ’n rou, energieke en ware rockgevoel vasvang – en volgens die eerste terugvoer het hulle presies dit reggekry.
“IS EK MAL” wys weer eens die band se vermoë om persoonlike stories in universele musiek te vertaal. Waar hul lirieke op liefde, verlange en menslike ervarings fokus, dra die nuwe snit ook ’n viering van lewensveranderende oomblikke. Dit is daardie gevoel van chaos en verwarring wat saam met liefde kom – iets wat almal kan verstaan en waarmee almal kan aanklank vind.
Met hierdie enkelsnit bewys Van Der Aven dat hulle nie bang is om nuwe klankrigtings te verken nie. “IS EK MAL” is ’n kragtige rock-snit wat die luisteraar tegelykertyd laat glimlag, dink en sing.
Luister 'IS EK MAL' hier:

















Comments