SPOEGWOLF BRING NUWE ALBUM 'WATER & WEERLIG'
- KARLA BOSCH
- Sep 1
- 1 min read
Spoegwolf is terug met nog ’n vars stuk musiek - hul splinternuwe album Water en Weerlig.

Vir baie aanhangers voel dit soos die volgende hoofstuk in ’n storie wat ons al jare lank saam met hulle lees en beleef. Die album bestaan uit agt snitte en, soos ons van Spoegwolf ken, kry jy daardie digterlike lirieke wat jou laat stilraak en dink, gemeng met musiek wat jou sommer net hard wil laat saam sing. Hulle speel soos altyd met teenpole - sagtheid teenoor krag, lig teenoor donker - en dit maak die luisterervaring interessant en vol emosie.
'n Liedjie soos “Hou Weer Moed” staan uit, nie net oor sy sterk lirieke nie, maar ook oor hoe dit klink - vars, vol energie en tog diep emosioneel. Spoegwolf wys met dié album dat hulle nog altyd bereid is om te groei en nuwe klanke te probeer, sonder om hul unieke identiteit prys te gee.
Wat dalk die mooiste is van Water en Weerlig, is hoe dit by mense se harte aansluit. Jy hoor iets van jou eie vrae, jou eie vrese, maar ook jou eie hoop in die woorde en musiek. Dis nie net ’n album om in die agtergrond te speel nie - dit’s een wat jy beleef, en wat jou saamneem op ’n reis.
Met Water en Weerlig herinner Spoegwolf ons weer hoekom hulle een van die grootste Afrikaanse bands van ons tyd is. Dis musiek wat lank ná die laaste noot by jou bly.
Musiekvideo 'Hou Weer Moed' met Emile Swiegers:

















Comments