top of page

’N PAINTING EN ’N LIED: RIKUS VAN DER VLIES OOR ‘Niks Meer.’

  • Jan 30
  • 2 min read

Die storie agter Rikus van der Vlies se nuwe liedjie ‘Niks Meer.’ is effens paradoksaal. Dis ’n geval van alles is niks en niks is alles. Wat begin het by liefde, het gegroei tot ’n klomp gedigte, later ’n skildery en uiteindelik ’n break-up song.


Rikus van der Vlies
Rikus van der Vlies / Verskaf

Volgens Rikus was hy nog nooit goed met pick-up lines of al die in-betweens rondom hoe om ’n meisie te kry nie. Tussen gedigte en liedjies het hy egter ’n ruimte gevind waar hy kon sê hoe hy voel. In ’n laaste poging om ’n verhouding te red, het hy vir sy muse ’n skildery van haar gestuur. Vir ’n oomblik het dit gewerk, totdat sy gehoor het wat musikante se salarisse is. Skielik het ’n kantoorwerk vir haar beter geklink. Rikus moes kies, en so het hierdie hoofstuk tot ’n einde gekom.


Die werklike geboorte van ‘Niks Meer’ het egter plaasgevind tydens ’n kunsklas saam met sy kunsjuffrou. Terwyl hulle oor die hele situasie gespot het, onthou Rikus hoe hy half tong-in-die-kies gesê het dat die meisie nou niks meer as ’n painting vir hom is nie. Daardie oomblik het die kern van die liedjie vasgevang.


Die ironie van die lied lê daarin dat ’n mens soms bereid is om alles vir iemand te gee, selfs al is dit net ’n gedig of ’n skildery, terwyl dit vir die ander persoon nie dieselfde betekenis dra nie. Binne jouself bly daar dan net herinneringe oor. In daardie gegewe spasie was dit alles vir jou, en dit was mooi.


Daar is duidelike literêre en musikale invloede in ‘Niks Meer’ Rikus noem Breyten Breytenbach se woorde oor liefde as vlerke waarvan jy moet weet, maar nie mee kan vlieg nie. Soms kan liefde ook soos ’n tronk begin voel wanneer dit ongesond raak. Daar is ook ’n subtiele verwysing na Jan Blohm in die lirieke, met Rikus wat erken dat ‘Breyten se Brief’vir hom een van die mooiste Afrikaanse liedjies ooit is.


In wese is ‘Niks Meer’ ’n samevatting van verskillende emosies binne ’n spesifieke tydperk. Wat begin het as ’n hartseer ballade, het met verloop van tyd ontwikkel tot ’n volledige lied en ironies genoeg selfs ’n amper happy break-up song. Rikus se wens is dat luisteraars sal besef daar is lig aan die einde van elke tonnel. Dinge maak nie altyd sin wanneer jy midde-in dit staan nie, maar in retrospek het die lewe ook ’n humoristiese kant. Soms kan ’n mens terugkyk en lag oor dit wat eens soos die einde van die wêreld gevoel het.


Titel: Niks Meer

Liedjieskrywer: Rikus van der Vlies

Vervaardiger: Tertius Human

Verspreider: Vonk


Kyk Niks Meer se musiek video hier:



Hierdie artikel vorm deel van 'n betaalde samewerking. Redaksionele integriteit bly belangrik vir Alternatief In Afrikaans.

Comments


Alternatief In Afrikaans

musieknuus

Image 7.jpeg
  • Instagram
  • TikTok
  • Facebook
  • Threads

@alternatiefafrikaans

© 2025 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page