top of page

MUZA MEDIA: 'N NUWE HOOFSTUK VIR MUSIEKVERKOPE

  • May 24
  • 2 min read

Updated: May 29

Verskaf / Spoegwolf saam met Dawie Verwey van Muza Media
Verskaf / Spoegwolf saam met Dawie Verwey van Muza Media

’n Nuwe Suid-Afrikaanse platform, Muza, hoop om die manier waarop kunstenaars hul musiek verkoop en met ondersteuners deel, te verander. Die idee agter Muza het ontstaan nadat die span agter die platform Japan besoek het en gesien het hoe gewild K-pop-groepe fisiese versamelbare musiekprodukte gebruik om aanhangers nader aan hul musiek te bring.


Muza gee kunstenaars die kans om hul musiek as klein “mini-cd’s” direk by vertonings en konserte te verkoop. Die produk lyk soos ’n miniatuur album wat ook as ’n sleutelhouer, motorspieëltjie-versiering of selfs ’n yskasmagneet gebruik kan word. Maar die produk is meer as net ’n fisiese aandenking.

Wanneer gebruikers die mini-cd teen hul foon “tap” of die QR-kode agterop skandeer, laai die album direk af na die Muza-toepassing, wat beskikbaar is op beide iOS en Android. Van daar af kan luisteraars die musiek permanent op hul foon speel. Volgens Muza is die doel van die platform om kunstenaars meer geleenthede te gee om geld direk uit hul musiek en live vertonings te maak. Die span sê die platform is nog nuut en sal waarskynlik met tyd groei en verander soos hulle terugvoer van gebruikers ontvang.





Hulle besef ook dat baie mense dalk nie dadelik nog ’n nuwe toepassing wil aflaai nie. Daarom ondersoek Muza reeds opsies waar die mini-cd’s eerder direk na Spotify- of Apple Music-albums en playlists kan skakel. Hierdie model word reeds by groter feeste gebruik waar verskeie kunstenaars optree en waar die kopieregprosesse meer ingewikkeld is.




Die platform het reeds aandag begin trek binne die Afrikaanse musiekwêreld. Spoegwolf se album Koma is onder andere op die Muza-platform by Droomland bekendgestel. Muza hoop uiteindelik om iets te skep wat nie net musiek verkoop nie, maar ook ’n nuwe tipe ervaring vir ondersteuners bied, iets fisies, versamelbaar en persoonlik in ’n tyd waar musiek meestal net digitaal bestaan.


Vir meer inligting besoek www.muzamedia.io


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.

© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page