KRISTI STEYN SE 'Agtergelaat’ GEE ’N STEM AAN DIE WAT HUL 'GOUD' VERLOOR HET.
- KARLA BOSCH
- Dec 8
- 2 min read
Met Agtergelaat bring Kristi Steyn ’n hartverskeurende, deurleefde nuwe lied wat direk praat met mense wie al te veel gegee het in die hoop dat liefde hulle sou red. Die lied is geskryf vir die gebroke harte; vir die mense wat gedink het dit gaan beter word; vir die wat probeer het tot daar niks van hulself oor was nie. Agtergelaat is nie net ’n lied nie - dit is ’n rou erkenning van hoe dit voel wanneer jy alles gee, jou hele hart oopvou, en tog uiteindelik alleen agterbly.

Die konsep van die lied sentreer rondom die antieke Japannese kuns van Kintsugi, waar gebreekte porselein met goud herstel word. In hierdie filosofie word die krake nie versteek nie, maar verhef - hulle word deel van die vaas se geskiedenis, deel van sy waarde. Kristi gebruik hierdie metafoor om te wys hoe liefde soms werk: wanneer jy iemand liefhet, probeer jy hul stukkies versigtig bymekaar sit. Jy giet jou tyd, jou geduld, jou mooi dade in hul krake in, hopend dat hulle weer heel sal word. Hopend dat jou goud genoeg sal wees om hulle terug te bring na hul oorspronklike glorie.
Maar soms gebeur iets anders. Soms raak die vaas heel - nie omdat jy heel geword het nie, maar omdat jy al jou goud ingesit het tot daar niks oor is nie. En wanneer jou goud op is, word jy agtergelaat. Agtergelaat word dan ’n ode aan die kunstenaars van die hart, diegene wie hulself verloor het terwyl hulle ander mooi probeer maak het. Die lied is ’n verklaring, ’n fluistering, ’n stukkie troos vir elkeen wat voel hul liefde was te veel én steeds nie genoeg nie.
Die musiek en lirieke is deur Kristi Steyn geskryf, met instrumentale verwerking deur Dayna Vos, Xander van Zyl en Jan-Hendrik Labuschagne. Die musiekvervaardiging is gedoen deur Kyle Botha by Son Studios. Die kombinasie bring die emosionele kern van die lied na vore - sag, helder en pynlik eerlik.
Agtergelaat is ’n lied vir elkeen wie al sy laaste bietjie goud weggegee het.
Luister Agtergelaat hier:

















Comments