top of page

TAMRYN MADALÉ: HOU LIEFDE EERLIK OP DEBUUT-ENKELSNIT, 'Egte Liefde'

  • May 28
  • 2 min read

Updated: Jun 1


Tamryn Madale
Verskaf / Tamryn Madalé / Fotograaf: Les-Lee Lesch

Met haar debuut-enkelsnit, “Egte Liefde”, bring Tamryn Madalé ’n eerlike kyk na liefde, nie die perfekte weergawe wat mens in flieks sien nie, maar die moeilike, rou en regte kant daarvan. Die Paarl-gebaseerde kunstenaar het haar lied vrygestel as deel van haar komende EP wat later vanjaar gaan verskyn. Met invloede van alternatiewe pop, introspektiewe lirieke en eerlike storievertelling bring Tamryn ’n sagte, emosionele styl na die Afrikaanse musiektoneel. Haar musiek fokus op die werklikheid van die lewe, van swaarkry en geestesgesondheid tot hoop en geloof. As ma van drie jong kinders vind sy dikwels inspirasie laat in die aand wanneer die huis stil raak en sy kans kry om haar gedagtes neer te skryf.


Tamryn Madale

Met haar agtergrond as geordende pastoor bring sy ook ’n diep emosionele eerlikheid na haar musiek. Volgens Tamryn wou sy met “Egte Liefde” ’n liefdeslied skryf wat realisties voel. “Met liefde in die regte wêreld moet jy mekaar oor en oor kies. Anders val dit uitmekaar,” sê sy.

Die lied se lirieke wys duidelik die rigting waarin sy beweeg:


“Ek skryf hierdie liefdeslied, sonder om te lieg. Want dis niks soos die movies nie, dis nie maanskyn en rose nie.”


Tamryn vertel dat haar siening van liefde oor die jare verander het. Ná haar ouers se egskeiding het sy lank geglo verhoudings hou nie, maar toe ontmoet sy haar man en begin anders droom oor liefde. Die afgelope paar jaar het egter groot uitdagings gebring, insluitend gesondheidsprobleme in haar gesin, finansiële druk en die verlies van haar pa.


Haar musiekloopbaan het ook nuwe momentum gekry deur die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram, wat sy as ’n groot keerpunt beskryf. Volgens Tamryn het die program haar weer laat glo in die waarde van haar stem, haar storie en haar plek in die bedryf. “Egte Liefde”, vervaardig deur Jean-Marc Meyer, dien as die eerste kykie na haar EP Eg, wat op 6 November vrygestel word. Haar EP-bekendstelling vind dieselfde aand plaas by Daisy Jones in Stellenbosch, met Francois van Coke as gaskunstenaar.


'Egte Liefde” is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.


Luister hom ook op ons NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS Speellys:




Comments


© 2026 Alternatief In Afrikaans / Kollekt Kreative Haus

bottom of page