RUK & RYM 2026: SOEK NA VOLGENDE ALTERNATIEWE STEM
- Jun 9
- 2 min read
Updated: Jun 16

Inskrywings vir Taalgenoot-Ruk en Rym 2026 is amptelik oop, en alternatiewe Afrikaanse kunstenaars van regoor die land word genooi om hul musiek in te skryf. Sedert die kompetisie se ontstaan in 2023 het Ruk en Rym gegroei tot een van die belangrikste platforms vir nuwe stemme binne die alternatiewe Afrikaanse musiekwêreld.
Die kompetisie bied 'n geleentheid aan opkomende kunstenaars om hul musiek aan 'n wyer gehoor bekend te stel, terwyl hulle ook die kans staan om verskeie pryse, insluitend ateljeetyd, te wen. Bands, sanger-liedjieskrywers, elektroniese kunstenaars, kletsrymers en ander musikante wat oorspronklike alternatiewe musiek met hoofsaaklik Afrikaanse lirieke maak, kan inskryf. Daar is geen inskrywingsfooi nie.


Vanjaar se semifinale rondes vind weer plaas by Railways Café in Irene en Daisy Jones Bar buite Stellenbosch. Die groot finaal vorm weer deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees en word ook by Daisy Jones Bar aangebied. Volgens kreatiewe regisseur Jaco van der Merwe lê die waarde van die projek nie net in die kompetisie self nie, maar ook in die gemeenskap wat rondom dit ontstaan.
"Alternatiewe kunstenaars moet inskryf vir Ruk en Rym, want dis die land se grootste platform waar 'n mens ontdek kan word," sê hy.
Volgens Van der Merwe skep die projek ook geleenthede vir kunstenaars om mekaar te ontmoet, saam te werk en deel te word van 'n groeiende netwerk binne die bedryf. Die impak van die kompetisie kan reeds gesien word in die loopbane van vorige deelnemers. Magé Troskie, wenner van Taalgenoot-Ruk en Rym 2025, sê die ervaring het haar gehelp om meer vertroue in haarself as kunstenaar te ontwikkel.
"Omdat ander mense in my geglo het, glo ek ook in myself," vertel sy.
Die 2026-keurpaneel bestaan uit bekende name soos Hunter Kennedy, Wendy Verwey Bekker, Jerome Rex, Jaco van der Merwe en Lundi Khoisan, terwyl die lewendige vertonings deur bedryfskenners en kunstenaars beoordeel sal word.
Inskrywings vir Taalgenoot-Ruk en Rym 2026 sluit stiptelik om middernag op 31 Julie 2026.




Comments