NOSTALGIE EN NUWE KLANKE - RUBEN ELOFF SE DEBUUT IN AFRIKAANS
- Sep 19, 2025
- 2 min read
Na twee jaar in Nederland, waar hy saam met sy gesin ’n nuwe lewe begin bou het, staan die Suid-Afrikaanse musikant Ruben Eloff nou sterk terug met sy heel eerste Afrikaanse vrystelling, Hoe die Stene Rol.

Ruben, wat voorheen deel was van die Suid-Afrikaanse band Apollo Motel, moes sy mede-bandlede agterlaat toe hulle geimmigreer het. In die stilte van aanpassing het hy homself geleer om tuis op sy rekenaar musiek op te neem en vry te stel. Aanvanklik was dit in Engels, maar die nostalgie en emosionele diepte van Afrikaanse musiek het hom onverwags teruggeroep. “Dit was opvallend dat Afrikaanse songs - soos dié van Laurika Rauch en David Kramer ’n groot emosionele reaksie by my begin los het. Miskien is dit omdat ek die mense in Suid-Afrika mis, miskien ’n ander rede wat ek nie verstaan nie,” verduidelik hy.
Daardie emosionele reaksie het hy nie net by homself nie, maar ook by ander Afrikaanse immigrante in Nederland raakgesien wanneer hy optree. Dit het hom geinspireer om in Afrikaans te begin skryf - en Hoe die Stene Rol is die eerste vrug van daardie proses.
Met hierdie lied gee Ruben ’n speelse, tog insiggewende kyk na hoe ons die wêreld beleef. Ruben beskryf dit só: “Ek irriteer my vrou so as ek vir haar sê die wêreld is ’n simulasie of TV-reeks. Daar is soveel snaakse, hartseer en toevallige goed wat gebeur dat ek nie anders kan dink as dat ons beskou word deur een of ander gehoor nie.”
Met lirieke wat draai om “hoe die stene rol,” plaas hy ’n ander perspektief op die manier hoe mense hul lewens interpreteer. Vir baie beteken dit bloot dat dinge gebeur soos dit moet, omdat “die stene maar so geval het.” Vir Ruben lê daar egter ’n ander laag: “Hierdie lied sê iets anders. Dit is so, want dit is so geprogrammeer.” Met sy eerste Afrikaanse enkelsnit wys hy dat hy nie net sy eie stem teruggevind het nie, maar ook ’n nuwe klankbaan vir Afrikaanse musiek in die buiteland.
Luister 'Hoe Die Stene Rol' hier:









Comments