KARLA BOSCH LIG DIE GORDYN MET HAAR NUWE SNIT 'Stil Geraas'
- KARLA BOSCH
- Oct 24
- 2 min read
Met haar diep lirieke, rou eerlikheid en alternatiewe indie-folk klank, het Karla Bosch die afgelope jaar begin om haar eie, onmiskenbare plek in die Afrikaanse musieklandskap te vorm. Nou keer sy terug met haar mees persoonlike en deurleefde projek tot dusver: die EP “Stilte”, ’n versameling liedere wat fokus op die brose ruimtes binne ons, daardie plekke waar gevoelens sag praat en waarheid nie meer weggesteek kan word nie. Die eerste enkelsnit, “Stil Geraas”, het 24 Oktober vrygestel en skop die EP-reeks op emosionele wyse af.

“Stil Geraas kyk na die wêreld rondom ons - vol mense, vol geraas, maar tog leeg en stil,” verduidelik Karla. “Dis ’n lied oor verlore drome, verborge pyn en hoe ons soms net skaduwees van onsself word. Dit vra die ongemaklike vraag: leef ons regtig, of dryf ons net saam in die stilte?”
Met haar sagte, introspektiewe vokale en unieke indie-folk benadering wat rou emosie en eenvoud kombineer, slaag Karla daarin om musiek te skep wat luisteraars nie net hoor nie, maar voel. Haar musiek word gekenmerk deur eerlikheid sonder versiering, liedere wat jou vang wanneer jy dink niemand kyk nie.
Die EP “Stilte” sal oor die volgende paar maande ontvou, met verdere enkelsnitte wat elkeen ’n ander laag van die menslike hart oopvlek: verlies, geloof, liefde, kwesbaarheid en selfontdekking. Die tweede enkelsnit, “Ek Hou Vas” (14 November), volg direk ná “Stil Geraas” en verdiep die storie.
“Stilte klink eerlik,” sê Karla. “Dis daai ruimte tussen twee mense, daai asem voor jy breek, daai moment ná die geraas, wanneer jy moet besluit of jy weer gaan praat, of net stilbly en voel.”
Waar “Stil Geraas” kyk na die wêreld en die stilte tussen mense, vertel “Ek Hou Vas” die storie van die hart, oor om vas te klou aan iets wat jy nog nie heeltemal kan los nie, en die oorblyfsels van mooi wat steeds skyn, selfs wanneer alles seer is.
Elke lied is soos ’n bladsy uit dieselfde brief aan die siel, ’n reis deur geraas, liefde, stilte en alles tussenin. “Stilte” is nie net ’n EP nie… dis ’n asem, ’n gebed, en ’n herinnering dat selfs in die donkerte, is daar altyd lig wat wag.
Die volledige EP sal 19 Desember beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.
Luister 'Stil Geraas' hier:

















Comments