STRAATLIGKINDERS: 'BLOEISELS' AMPER 20 JAAR, DIE KLANK VAN ’N HELE GENERASIE
- May 18
- 2 min read
Updated: Jun 12

Daar is sekere albums wat meer doen as net goeie musiek maak. Hulle raak deel van mense se herinneringe, hul tienerjare en selfs hul identiteit. Vir baie aanhangers van alternatiewe Afrikaanse musiek bly Straatligkinders se Bloeisels een van daardie albums.
Toe die groep in die mid-2000’s begin momentum kry, het hul klank onmiddellik uitgestaan. Dit was emosioneel, energiek en eerlik op ’n manier wat jong luisteraars verstaan het. In ’n tyd waar baie Afrikaanse musiek nog veilig en voorspelbaar gevoel het, het Straatligkinders ’n ander soort emosie gebring. Daar was hartseer, frustrasie, liefde en hoop in hul lirieke, maar altyd met ’n rou energie wat mense laat 'connected' voel het.
Snitte soos “Kan Ek Met Jou Dans”, “Gedagte Vir Die Dag” en “Die Avontuur Van ’n Hartbreek” het vinnig gunstelinge geword onder aanhangers van die alternatiewe toneel. Die groep het daarin geslaag om emosionele temas toeganklik te maak sonder om dit dramaties te laat voel. Dit was die soort liedjies wat mense hard saam geskree het by shows, of alleen deur oorfone geluister het wanneer die wêreld net te veel gevoel het.

Die sukses van Bloeisels het ook gewys dat daar ’n groot jong gehoor vir alternatiewe Afrikaanse musiek bestaan. Saam met die invloed van MK en die groei van internet-kultuur in Suid-Afrika, het bands soos Straatligkinders gehelp om ’n nuwe era van Afrikaanse rock en alternatiewe musiek verder oop te breek.
Wat Bloeisels vandag nog besonders maak, is hoe tydloos dit steeds voel. Al het musiekstyle oor die jare verander, bly die emosie en eerlikheid van die album relevant. Vir baie mense is dit nie net ’n album nie, maar ’n herinnering aan ’n hele era van Afrikaanse musiek wat anders, eerlik en unapologetically emosioneel was.
Byna twee dekades later bly Bloeisels steeds ’n belangrike deel van die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek.
Die album “Bloeisels” is beskikbaar op alle digitale platforms, saam met die 2007 musiek video van Gedagte vir die Dag wat gekyk kan word.
Luister ook ons HERLEEF / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS Speellys hier: Apple Music | Spotify




Comments