LIZL SIMOES BLOM OOP MET DEBUUT-ENKELSNIT 'Muurblom'
- May 17
- 2 min read
Updated: Jun 12

Vir Lizl Simoes van Pretoria is musiek meer as net ’n kreatiewe uitlaatklep, dit is ’n manier om mense te laat voel dat hulle raakgesien word. Die 24-jarige klavieronderwyseres en musikant stel nou haar debuut-enkelsnit, “Muurblom”, vry, ’n lied wat op 15 Mei op alle digitale platforms beskikbaar geword het.
Lizl, wat deel is van die ATKV-Crescendo mentorskapprogram, beskryf “Muurblom” as ’n lied oor selfaanvaarding en die idee dat elke persoon gemaak is om te blom, selfs al voel hulle soms onsigbaar. Volgens haar gaan die lied oor mense wat voel asof hulle tussen die “muurpapier van die lewe” verdwyn. Met sagte klaviermelodieë, eerlike lirieke en ’n warm stem bring Lizl ’n rustige, intieme klank wat luisteraars dadelik intrek. Haar musiek voel persoonlik en opreg, amper soos ’n oop dagboek waarin sy haar eie emosies en ervarings deel.

Die inspirasie vir “Muurblom” het gekom tydens ’n moeilike kreatiewe tyd toe Lizl gesukkel het om nuwe musiek te skryf vir ATKV-Crescendo se afrondingsweek in Stellenbosch. Sy vertel dat die beeld van ’n “muurblom” by haar vasgesteek het nadat sy jare terug die boek The Perks of Being a Wallflower gelees het. Daardie gedagte het uiteindelik gehelp om die kreatiewe blok te breek en die lied het begin vorm aanneem. Die enkelsnit is vervaardig deur Ruan Graaff en vorm deel van ’n groter reeks vrystellings waarmee Lizl haar eie styl en identiteit as kunstenaar ontdek. Sy het ook saam met vervaardigers Jean-Marc Meyer en Riku Lätti gewerk om nuwe musiek op te neem.
Vir Lizl is “Muurblom” uiteindelik meer as net nog ’n lied. Dit is ’n herinnering dat elke mens hul eie plek het, en dat selfs die stilste mense ook bedoel is om te blom.
'Muurblom” is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.
Luister NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS Speellys hier: Apple Music | Spotify




Comments