SKEUR DEEL HAAR EERLIKE WEERGAWE VAN 'RED MY VAN MYSELF'
- May 20
- 2 min read
Updated: Jun 1

Met haar nuwe vrystelling, “Red My Van Myself (Die Eerlike Weergawe)”, neem die onafhanklike kunstenaar SKEUR luisteraars terug na waar die lied oorspronklik begin het, alleen agter ’n klavier, tussen moeilike emosies en laatnag stemopnames. Die lied is oorspronklik in 2025 self geskep in ’n gratis DAW-program, met Danny Helsing as mixing en recording engineer op die snit.
Volgens SKEUR is die lied geskryf tydens ’n baie moeilike tyd in haar lewe, iets waarna sy steeds soms terugluister op ou stemopnames op haar foon. Vir haar voel hierdie weergawe meer persoonlik en eerlik as ooit tevore. “Ek het altyd bevraagteken hoekom mense van die lied gehou het toe ek dit oorspronklik net saam met ’n klavier gespeel het,” vertel sy. “Hierdie weergawe was my manier om die lied terug te vat na sy 'roots' toe.”
Maar vir SKEUR gaan hierdie vrystelling oor meer as net die musiek self. Dit gaan ook oor haar reis as onafhanklike kunstenaar en vervaardiger in ’n bedryf wat steeds grootliks deur mans oorheers word.
“Soos baie ander mense het ek grootgeword met die idee dat jy niks sonder ’n label kan bereik nie,” sê sy. “Ek het na DAWs gekyk en gedink ek sal nooit daarmee regkom sonder professionele hulp nie.”

Vandag kyk sy terug en besef hoe vêr sy al gekom het met ses liedjies reeds uit. Hoewel sy erken dat haar produksie- en 'mixing' vaardighede nog groei, is sy trots op wat sy self opgebou het. SKEUR hoop haar storie inspireer ander kunstenaars, veral vroue, om self die tegniese kant van musiek aan te pak. Sy glo hoe meer kunstenaars hul eie krag begin besef, hoe meer gaan die musiekbedryf verander. Sy verklap ook dat sy later vanjaar ’n nuwe vrystelling beplan wat haar ervaring en trauma binne die industrie verder gaan aanspreek.
“Ek is gereed om op tone te trap,” sê sy. “Ek sal nooit myself of ander se stories censor nie. Ek doen nie hierdie vir geld of fame nie, ek doen dit vir ’n doel.”
"Red My Van Myself (Die Eerlike Weergawe) is nou beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.
Luister NUWE / ALTERNATIEF IN AFRIKAANS Speellys hier:

Comments